Deur Anita Dangazele
‘n Ondersoek deur die Oos-Kaapse Departement van Vervoer het aan die lig gebring dat drie senior amptenare tussen 2020 en 2022 betalings van R14.9 miljoen vir “spook skoolvervoer” in hul sak gesteek het.
Die drie is deur die departement geskors – maar is nou glo terug by die werk terwyl ondersoeke voortduur.
Die amptenare het glo kontrakte aan 25 “spookvoertuie” toegeken om nie-bestaande leerlinge skool toe te vervoer, berig die Daily Dispatch.
Die tender wat vereis dat verskaffers van skoliervervoer leerders na verskeie skole in verafgeleë landelike gebiede vervoer, is in Augustus 2019 geadverteer. Die kontrakte was na bewering geldig tussen 2020 tot 2022, terwyl die departement gesukkel het om wettige diensverskaffers te betaal omdat die vervoerprogram se geld opgeraak het.
Dit het beteken dat baie plattelandse leerlinge sonder vervoer gelaat is en nie by die skool kon uitkom nie.
‘n Senior amptenaar by die vervoerdepartement het gesê dit is maar die seekoei se snoet. “Die vraag wat jy moet vra is hoekom hierdie amptenare steeds in die departement is terwyl daar na bewering bevind is dat hulle korrup is en dat hulle bedrog gepleeg het.”
“Die departement betaal vir spookvoertuie ten koste van kinders wat werklik daardie dienste nodig het.”
Departementele woordvoerder Unathi Binqose het bevestig dat die skorsings Maandag opgehef is en dat die drie terug is by die werk terwyl die ondersoek aan die gang is.
Saamgestel deur Anita Dangazele
Op die hierfoto: Kinders wat skool toe stap omdat daar geen openbare vervoer beskikbaar is nie
Bron: Facebook