Deur Lucky Maree
Terwyl die All Blacks-rugbyspelers stilweg die kop omhoog gehou het na hul een-punt verlies in die Wêreldbeker eindstryd, was Nieu-Seelandse ondersteuners baie meer uitgesproke in hul veroordeling van die skeidsregter, die TV-ref, die Springbokke, en enigiemand anders wat hulle moontlik kan blameer.
Die All Blacks het immers nie die wedstryd verloor nie: hulle is beroof!
Dit maak die sege van 12-11 punte natuurlik soveel soeter vir Suid-Afrikaners en Springbok-ondersteuners.
Maar toetswedstryde word nie in ‘n vakuum gewen of verloor nie. Baie maande se noukeurige beplanning, opleiding en voorbereiding word vir ‘n Wêreldbeker veldtog vereis.
Rassie Erasmus en Jacques Nienaber werk al baie langer as ‘n jaar om die span vir hierdie een glorieryke wedstryd voor te berei.
Nieu-Seeland Rugby, aan die ander kant, het ‘n groot deel van die jaar gewonder of hulle hul afrigter, Ian Foster, moet afdank. Toe hulle uiteindelik die sneller trek, het hulle hulself in die voet geskiet. En dis waar hulle die Wêreldbeker verloor het.
Hulle het Ian Foster in die pad gesteek en Scott ‘Razor’ Robertson so onlangs as Junie vanjaar aangestel, maar toe, soos hulle in militêre terme sê, het hulle ‘n “fatale flater” begaan.
Hulle het daarop aangedring dat Foster, ‘n man wat hulle voor die hele rugbywêreld verneder het, moet aanbly tot ná die Wêreldbeker-toernooi. Robertson, een van ‘n baie klein groepie afrigters ter wêreld wat moontlik vir Erasmus en Nienaber sou kon klop, moes terugstaan.
Foster is nie ‘n goeie internasionale afrigter nie. Hy het wedstryd na wedstryd rondgeval om oor die span se kaptein te besluit. Sam Cane het eers werklik tot sy reg gekom by die Wêreldbeker-toernooi, en het hom goed van sy taak gekwyt.
Joe Schmidt, wat Ierland suksesvol afgerig het, het onder Foster by die All Black-groep aangesluit om te help met bestendigheid en hy het dit amper reggekry, maar dit was te laat.
Intussen was Siya Kolisi heeltyd daar. Hy was reeds ‘n goeie kaptein en het met elke wedstryd meer van ‘n legende geword.
Die Springbokke het nie deur die uitklopfase geseil nie. Die Bokke het teen Ierland, Skotland en Frankryk gespeel, net teen Ierland verloor, en ‘n verkwikte Engeland geklop om teen die All Blacks te speel.
Die Bokke was nou so taai soos skoenleer. Hulle het ‘n manier gevind om te wen wanneer dit saak maak, en hulle het geweet hulle kan dit weer doen.
In die hele toernooi het die All Blacks slegs een rowwe wedstryd gehad, en hulle was briljant in hul oorwinning van Ierland – maar dit is omtrent dit.
In die eindstryd was die Bokke eenvoudig taaier as die All Blacks. Hulle het met pure guts gespeel.
Die William Webb Ellisbeker kom huistoe – Suid-Afrika toe. En vir die oomblik is dit al wat ons nodig het.
Op die foto hierbo: Die All Blacks oomblikke nadat hulle in die eindstryd teen die Springbokke verloor het
Bron: X