Erge weerstoestande het gelei tot sneeuval in dele van die Vrystaat, wat ysige padstoestande veroorsaak het, hoofsaaklik op die N3-hoofweg in Harrismith en Van Reenen.
Die Vrystaatse provinsiale vervoerdepartement het ‘n waarskuwing aan motoriste gerig en versoek om versigtig te wees op die pad.
Hillary Mophethe, ‘n woordvoerder van die departement, het die sneeuval bevestig en gesê soutwater word tans op die paaie gegooi om te voorkom dat ys vorm.
Benewens die Vrystaat het die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) waarskuwings vir KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap uitgereik, en sneeu in gebiede rondom die Drakensberge voorspel.
Die SAWD raai inwoners ook aan om in kontak te bly met plaaslike rampbestuurbeamptes en om na die radio te luister om op hoogte van sake te bly.
Die rowwe weer volg op ‘n naweek van nat en winderige toestande in KZN, met erge donderstorms, hael en sterk winde wat aangemeld is. Die KZN Cogta-departement het waarskuwings uitgereik in afwagting van hierdie storms.
Die SAWD het ook waarskuwings uitgereik vir skadelike winde wat gebiede van die Noord-Kaap tot by die Tuinroete, asook tussen Cape Columbine en Gqeberha sal raak.
Motoriste wat op die N3 se Van Reenenspas wou ry, word aangeraai om hul reis uit te stel indien moontlik weens die gevaarlike bestuurstoestande wat veroorsaak word deur reën, swaar sneeuval, en ysreën.
Die N3-tolkonsessie (N3TC) het die belangrikheid beklemtoon om bestuursgedrag aan te pas volgens die pad- en weerstoestande, en bestuurders aangeraai om spoed te verminder, volgafstande te vergroot, en hoofligte aan te hou.
N3TC bedryfsbestuurder Thania Dhoogra het bestuurders ook versoek om nie verby te steek nie tensy dit broodnodig is, en om slegs by aangewese parkeerareas te stop.
Saamgestel deur personeelskrywer
Op die foto hierbo: Sneeu in Harrismith
Bron: X