Die Bokke besoek ‘n buurt naby jou!

Welcome back, Bokke

Die Springbokke, vars van hul geskiedkundige oorwinning by die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk, gaan ‘n triomfantlike tuiskoms in Suid-Afrika geniet wanneer hulle die gesogte William Webb Ellisbeker huis toe bring.

Hul aankoms Dinsdag by OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg word gretig afgewag deur duisende aanhangers.

Voordat hulle Frankryk verlaat het, het die span Sondagaand die gesogte Wêreldrugby-toekenningsgala in Parys bygewoon en ‘n merkwaardige toernooi afgesluit.

Met hul terugkeer sal ‘n perskonferensie met hoofafrigter Jacques Nienaber, kaptein Siya Kolisi, en uitgesoekte spanlede omstreeks 12-uur gehou word.

Om die oorwinning te vier en hul vreugde met ondersteuners regoor die land te deel, sal die Springbokke ‘n trofeetoer onderneem en die Beker in verskeie stede ten toon stel.

Die toer skop af in Pretoria, Johannesburg en Soweto, met ‘n grênd finale op Donderdag, 2 November by FNB Stadion.

Kaapstad, Durban en Oos-Londen speel ook gasheer vir die kampioene, met die toer wat op Sondag 5 November in die Oos-Kaap afsluit.

Die reisplan weerspieël nie net die beduidende aanhangersbasis in hierdie gebiede nie, maar bring ook hulde aan die Oos-Kaap se belangrike rol in die rugbywêreld.

Spesifieke tye, plekke en inligting oor bestemmings in elke provinsie sal mettertyd aangekondig word. Daar word verwag dat Suid-Afrikaanse ondersteuners in groot getalle sal opdaag om die Springbokke se vierde Rugby Wêreldbeker-titel, ‘n nuwe rekord in die sport se geskiedenis, te vier.

Hul naelskraapse sege van 12-11 oor Nieu-Seeland in die eindstryd by die Stade de France in Parys het hul plek in rugbygeskiedenis verstewig, en die volk is gereed om hulle met ope arms tuis te verwelkom.

Saamgestel deur personeelskrywer

Op die foto hierbo: Die Springbokke vier hul Wêreldbeker-oorwinning

Bron: Springbokke