‘As ons eers bymekaarstaan, kan niks ons keer nie’

Siya 4 Prez

Deur Toby Shapshak

Nadat Siya Kolisi die eerste Springbok-kaptein geword het wat twee agtereenvolgende Wêreldbekertoernooie gewen het, het hy Suid-Afrika daaraan herinner: “As ons eers bymekaarstaan, kan niks ons keer nie – nie net in sport nie, maar ook in die lewe.”

Die inspirerende Kolisi, wat 10 minute langs die kantlyn deurgebring het nadat hy ‘n geelkaart gekry het vir ‘n duikslag teen die kop, het soos ‘n besetene gespeel. Dieselfde geld vir al die Springbokke, wat ‘n derde agtereenvolgende wedstryd met ‘n enkele punt gewen het.

Die nuwe “eenpuntwonders”, soos hulle reeds genoem word, het nou hul vierde Wêreldkampioenskap gewen, ná Kolisi se ewe historiese oorwinning in Japan in 2019 as die eerste swart Springbokkaptein. Die vorige bekers is natuurlik in 1995 en 2007 verower.

In ‘n wedstryd wat met die lae telling van 12-11 gewen is, het die Springbokke ongelooflike energie en kalmte getoon om die ongebreidelde All Blacks in ‘n blik te druk – dit nadat Kiwi kaptein Sam Cane vir ‘n skouer-tot-kop duikslag op Bok senter Jesse Kriel van die veld af gestuur is.

Deur die omstrede bunkerstelsel te gebruik, is die geel opgegradeer na ‘n rooi kaart, wat die All Blacks genoop het om met 14 man te speel vanaf die 27ste minuut.

Nieu-Seeland, wat die rugby-pronkstuk al drie keer gewen het, het hul pas verstewig. Maar die Springbokke het gewys hoe spanwerk en samewerking enige struikelblok kan oorkom.

Toe hy paar minute ná die oorwinning gevra is hoe hy voel, was Kolisi amper sprakeloos. Maar, soos altyd, het die sagte reus uit sy hart uit gepraat – en die harte van alle Suid-Afrikaners geroer.

“Ek kan nie altyd verduidelik hoe ek voel nie, want jy moet Suid-Afrikaans wees om die dinge wat ons doen te sien, voel en ervaar,” het hy gesê.

“Jy moet Suid-Afrikaans wees, want ons woon in ‘n pragtige land met baie probleme. Maar as ons eers bymekaarstaan vir ‘n gemeenskaplike doel, kan niks ons as ‘n land keer nie. En dit is nie net in sport nie.

“Ons sê nie ons gaan heeltyd wen nie, maar ons sal altyd alles gee.”

Springbok flank Pieter-Steph du Toit, wat die beste wedstryd van sy lewe gespeel het, is welverdiend as die Speler van die Wedstryd aangewys – nadat hy in 2019 die Speler van die Toernooi en Wêreldrugby se Speler van die Jaar gewen het.

“Hy was fenomenaal,” het afrigter Jacques Nienaber ná die geskiedkundige eindstryd gesê. “Verdediging is my departement, en hy was uitsonderlik.”

Du Toit het 28 duikslae gemaak.

“Hy het homself in die regte posisies geplaas. Ek maak altyd ‘n grap dat as daar ‘n wit plastieksak oor die veld waai, hy dit waarskynlik ook sal jaag,” het Nienaber bygevoeg oor die ‘Malmesbury Missile’ – Du Toit se bynaam.

“Hy was ‘n masjien.”

Die wedstryd is gekyk deur tennislegendes Novak Djokovic en Roger Federer, wie se ma ‘n Suid-Afrikaner is.

Skrumskakel Faf de Klerk, wat ná die 2019-eindstryd met ‘n ietwat verleë Prins Harry in ‘n SA vlag-speedo te sien was, het ná die wedstryd vir Federer ‘n bier aangebied.

Anders as die Britse koninklike, wat die bottel geweier en na die TV-kameras gewys het, het die Switserse-gebore Federer ‘n bier met die viermalige rugbywêreldkampioene gedeel.

Op die foto hierbo: Siya Kolisi word die eerste Springbok-kaptein wat rugby-wêreldbekers wen

Bron: X