Deur Zukile Majova
In ‘n hoogs betwiste verkiesing neig dinge na ‘n dooiepunt, met geen van die hoofaanspraakmakers wat dit regkry om ‘n duidelike meerderheid te beklink nie.
In daardie situasie verskuif die mag na die kleiner partye wat 5% tot 10% van stemme inpalm.
Suid-Afrika staan op die drumpel van ‘n oorgang: tydens 30 jaar van ANC-bewind is die waardes en beleid van een party as dié van alle Suid-Afrikaners voorgehou.
Hoe meer mag ‘n enkele party het, hoe meer waarskynlik is dit dat daardie mag misbruik word, wat die grens tussen party en staat doelbewus vervaag. En voor jy jou oë uitvee verander partybeleid in staatsbeleid – sonder om in die Parlement getoets te word, en ongeag risiko’s wat met die beleid gepaard gaan.
Vat byvoorbeeld die radikale ANC-beleid oor die oorlug tussen Rusland en Oekraïne, en tussen Israel en Hamas, waar die ANC se siening as Suid-Afrikaanse beleid aan die res van die wêreld voorgehou word.
In albei gevalle plaas politieke betrekkinge tussen die ANC en Rusland en Hamas –respektiewelike aggressors in die huidige konflikte – die land se internasionale status in die weegskaal.
Suid-Afrika is nie die ANC nie en die ANC is nie Suid-Afrika nie. Mens sou wou glo dat almal dit weet.
In ons land moet die bron van gesonde verstand daardie partye wees wat die swaaistem mag wen – die sogenaamde koningmakers. Dit sluit in die EFF met 10.8%, die IVP met 3.38%, en die VF-Plus met 2.38%.
Hierdie partye se raison d’ être is om moontlike magsmisbruik deur die groter partye te voorkom. Hulle beweer ook almal dat hulle bestaan met die uitsluitlike doel om grondwetlike demokrasie en die welstand van die vrou en man op straat te verdedig.
Maar te dikwels gebruik hulle daai einste waaistem om onverklaarbare besluite te neem. Die IVP het byvoorbeeld verlede week met die ANC saamgespan om ‘n uiters gebrekkige kandidaat vir die allerbelangrike amp van Openbare Beskermer aan te stel.
Dit het gebeur ten spyte daarvan dat die vorige ampsdraer aan die kaak gestel is en later haar ware kleure gewys het deur by die EFF aan te sluit.
Gepraat van die EFF: stigter Julius Malema het die nasie verseker dat as sy party aan bewind is, dit Hamas sal bewapen in sy strewe om die mense van Israel uit te wis.
Dit is ‘n party wat uit Nelson Mandela se ANC gebore is en grootliks gewild is onder vrygeborenes.
In ander gevalle is die burgemeesterskap van die Stad Johannesburg aan houers van die swaaistem, die Moslem-party Al Jama-ah, toegeken – ten spyte daarvan dat die party slegs 0.9% van die stemme deur die stad se kiesers uitgebring, kon wen.
Met die nasionale algemene verkiesing van 2024 om die draai, en provinsies soos Gauteng en KwaZulu-Natal wat uit die ANC se vingers glip, kan kiesers maar net hoop die koningmakers sal volwasse besluite neem, wat in die hele land se belang is.