Deur Lucky Maree
Die belangrikste deel van die hele stinkstorie wat Tom Curry oor Bongi Mbonambi opgemaak het, is dat Wêreldrugby Bongi vrygestel het om in Saterdag se Wêreldbeker-eindstryd te speel.
Soos gewoonlik het Wêreldrugby – teen ‘n tempo wat ‘n klomp ou-skool omies met hul leesbrille kan volg – verklaar dat, hoewel enige bewering van diskriminasie uiters ernstig opgeneem word, die ondersoek bepaal het dat daar “onvoldoende bewyse” was teen Mbonambi.
Wêreldrugby het gesê hulle beskou die saak as gesluit tensy bykomende bewyse aan die lig kom.
Merkwaardig maar waar: Wêreldrugby het ook belowe om terug te gaan na die Herfsnasiesreeks van 2022 om diskriminerende gedrag teen Tom Curry te hersien.
Beteken dit dat Tom Curry in November verlede jaar, byna ‘n jaar gelede, ‘n rasse-belediging ervaar en dit vir homself gehou het tot die 23ste minuut van die Wêreldbeker-wedstryd teen die Springbokke, waarna hy hom na skeidsregter Ben O’Keeffe gehaas het?
Hy kla: “Meneer! Meneer! Hy het my ‘n k*nt genoem,” en vra die ref wat hy daaromtrent moet doen. Hy sê nie (soos gehoor op die ref se mikrofoon) of hy bedoel hy is ‘n minuut gelede of tien maande gelede beledig nie.
In elk geval, terwyl die saak nie opgelos is nie, is dit vir eers op die rak – en waarskynlik vir altyd onder die mat ingevee.
Dit is veilig om te sê dat Tom Curry nie sal erken dat hy nie die Afrikaanse taal ken nie, en dat die woord “kant” iets anders beteken as wat hy gedink het dit beteken.
Dit beteken ook dat hy nie gedwing sal word (die hemel weet, hy sal dit nie op eie stoom doen nie) om Bongi en die span om verskoning te vra nie.
Op die foto hierbo: Bongi Mbonambi.
Bron: Scrolla.Africa annale