Deur Lucky Maree
Met die ‘n plofbare pak voorspelers, het die Springbokke ‘n duidelike waarskuwingskoot in die All Blacks se rigting afgevur. “Ons kom vir julle met ons voorspelers,” is die boodskap.
All Blacks afrigter Ian Foster moes nog altyd die realiteit in die gesig staar dat die All Blacks se skrum nie die voorspelers het om met die Bokke te kompeteer nie.
Maar sedert die koms van die Ierse skrumafrigter Joe Schmidt in die Kiwe-kamp, het die Nieu-Seelandse voorspelers al hoe sterker geword. Enigiemand wat dink die All Blacks skrum sal maklik oorheers word, leef in ‘n droomwêreld.
Wanneer hulle Saterdag die veld opdraf, sal die Bokke waarskynlik voorlangs ietwat sterker wees – maar nie so dominant soos vantevore nie.
Om met ‘n bank van sewe voorspelers en net een agterspeler die wedstryd aan te pak, verklap die briljante manier waarop Nienaber en Erasmus die span laat oefen het.
Hulle kan net die kans waag weens die veelsydigheid van spelers soos Kwagga Smith en Deon Fourie, maar ‘n besering aan Jesse Kriel, Damian de Allende of Handré Pollard sal probleme veroorsaak.
Om dit ‘n “voorspelerspel” te noem, is soos om te sê die agterspelers sal nie by die wedstryd betrokke wees nie.
Maar dis nie die geval nie. Kriel en De Allende gaan ‘n magtige stryd voer om Jordie Barrett, Beauden Barrett en Richie Mo’unga in bedwang te hou wanneer hulle spoed opbou in die middelveld.
Gelukkig is Damian Willemse ‘n sterk, robuuste heelagter en in ‘n man-tot-man-wedstryd kan jy jou geld op hom sit, maar om al daardie vreesaanjaende Nieu-Seelandse agterspelers alleen aan te pak?
Nie hy of enige ander man kan dit nie doen nie. Wanneer Willie le Roux opkom, sal dit waarskynlik op heelagter wees. Willie op aanval kan spesiale dinge laat gebeur. Op verdediging? Nie eintlik nie.
Ons briljante vleuels Cheslin Kolbe en Kurt-Lee Arendse kan (en sal waarskynlik) die wedstryd in Suid-Afrika se guns swaai gegewe ‘n halwe kans, maar kan hulle vir Will Jordan keer as hy eers stoom opgebou het? Kan enige iemand vir Jordan op volle vaart stop?
In ‘n wedstryd waar die kleinste voorsprong ‘n groot verskil kan maak, sal die weer ‘n rol speel net soos verlede week teen Engeland. Beide veld en bal sal sonder twyfel nat wees.
Ons weet daar sal verspreide buie wees maar ons weet nie wanneer nie. Die Bokke speel blykbaar beter as dit nie reën nie. As die reën op die regte tyd ophou, is die Bokke steeds die gunstelinge. As hulle moet speel met die reën wat hulle in die gesig looi, kan dit saakmaak waar dit seermaak.
Dit lyk of Nienaber en Erasmus ‘n groot waagstuk aangegaan het met die voorspelers – en hulle is gewoonlik reg. Sal dit hierdie keer werk? Ons sal Saterdag skuins voor middernag weet.
Op die foto hierbo: Springbokke druk teen Engeland
Bron: Springbokke