Deur Zukile Majova
Die EFF het sy plan laat vaar om bedrywighede by sowat 377 McDonald’s restaurante in Suid-Afrika te ontwrig.
Dit kom nadat McDonald’s Suid-Afrika hom gedistansieer het van die optrede van die burgerreus in Israel.
Die party het ’n beroep op McDonald’s SA gedoen om sy standpunt in die voortslepende oorlog in die Midde-Ooste duidelik te maak, waar McDonald’s Israel gesê het hy sal Israeliese soldate van gratis etes voorsien.
“McDonald’s in Suid-Afrika is ‘n nasionale onderneming, met sy volle eienaarskap en bedrywighede onder toesig van plaaslike bestuur.
“Ons is nie verbonde aan McDonald’s se bedrywighede in Israel nie, wat daar ’n plaaslike besigheid is.
“McDonald’s in Israel word bedryf [as] ‘n aparte entiteit teenoor McDonald’s in Suid-Afrika en neem sy eie besigheids- en kommunikasiebesluite, onafhanklik van ons besigheid in Suid-Afrika,” het die maatskappy in ‘n verklaring gesê.
Terwyl verskillende lande kant kies in die voortslepende Israel-Palestina konflik, is McDonald’s kettingbedrywighede regoor die wêreld onder druk om hul standpunt te verklaar.
Takke in Saoedi-Arabië, Oman, Koeweit, die Verenigde Arabiese Emirate, Jordanië en Turkye het reeds hul ondernemings van die oorlog gedistansieer.
Die EFF het gesê hy verwelkom McDonald’s se standpunt oor die oorlog en doen ‘n beroep op groot kleinhandelaars in Suid-Afrika om ontslae te raak van kos en goedere wat van Israel afkomstig is.
“Ons herhaal ons oproep aan al die progressiewe lande om al die voedselinvoer vanaf Israel te boikot! Ons Is Palestyne, Palestyne Is ons!”
Verlede week het Suid-Afrika se Minister van Internasionale Betrekkinge, Naledi Pandor, ‘n boikot van goedere uit Israel gevra.
President Cyril Ramaphosa se regering het egter nie ‘n amptelike standpunt oor die saak ingeneem nie, aangesien daar elke jaar meer as R11 miljard se handel tussen die twee lande plaasvind.
Die president het gesê Suid-Afrika se standpunt oor die Midde-Ooste konflik het nie verander nie.
“Die bakleiery moet eindig. Israel moet sy beleg en beskieting van Gaza stop. Hamas moet ophou om vuurpyle na Israel te lanseer. Gyselaars moet terugbesorg word. Ons moet enige optrede ontmoedig wat hierdie konflik aanwakker en dreig om die hele streek te verswelg. Humanitêre deurpaaie moet oopgemaak word om menslike lyding te verlig.”
Op die foto hierbo: ‘n Soldaat bestel ‘n Big Mac
Bron: Flickr