Israeliese gyselaar, 85, wens haar ontvoerders ‘vrede’ toe

Released by Hamas

Yocheved Lifshitz, ‘n 85-jarige Israeliese vredesaktivis, is op 7 Oktober deur Hamas-militante ontvoer. Sy is geslaan, aan ‘n motorfiets vasgebind en vir twee weke ondergronds aangehou in Gaza.

Toe sy Maandagaand vrygelaat is, het sy haar ontvoerder se hand gaan skud.

Lifshitz is saam met Nurit Yitzhak, 79, aan haar familie terugbesorg na ‘n ooreenkoms wat deur Egipte en Katar bemiddel is. Hulle het die derde en vierde gyselaars geword wat vrygelaat is. Ongeveer 220 mense word steeds deur Hamas aangehou.

Lifshitz het haar beproewing beskryf in ‘n emosiebelaaide perskonferensie ná haar vrylating. Sy het gesê nadat sy rof behandel is toe sy gevange geneem is, haar ontvoerders aan haar “deernis” en “sagmoedigheid” getoon het.

Sy het gesê die Hamas-militante het “mal gegaan” toe hulle deur ‘n veiligheidsheining na Israel gebreek het. “Hulle het oud en jonk sonder onderskeid vermoor en ontvoer.”

Lifshitz is ontvoer saam met haar man Oded, 83, wat steeds as gyselaar aangehou word. Hul buurkind – ‘n 12-jarige outistiese meisie genaamd Noya Dan – is langs haar 80-jarige ouma dood gevind. Meer as 1,400 Israeliese burgerlikes is op 7 Oktober uitgemoor.

Lifshitz is aan ‘n motorfiets vasgebind en na Gaza geneem. “Terwyl ons gery het, het die motorfietsryer my met ‘n houtpaal geslaan. Hulle het nie my ribbes gebreek nie, maar dit het my baie seergemaak in daardie area, wat dit moeilik gemaak het om asem te haal.”

Sy en ander gyselaars is toe gedwing om deur ‘n doolhof van ondergrondse tonnels vir etlike kilometers te loop.

Nadat hulle egter die groot saal bereik het waar hulle aangehou is, het die Hamas-militante wat hulle ontvoer het, hulle beter begin behandel. Hulle het dieselfde kos as hul wagte geëet – “pitas met roomkaas, gesmelte kaas, komkommers. Dit was ‘n maaltyd vir ‘n hele dag.”

Sy het die wagte as “baie vriendelik” en “hoflik” beskryf.

Sy het gesê ‘n dokter het hulle daagliks besoek om medisyne te verskaf en enige beserings te behandel. “Hulle was baie besorg oor higiëne en was bekommerd dat siektes sou uitbreek. Ons het toilette gehad wat hulle elke dag skoongemaak het.”

Lifshitz het haar werkslewe as ‘n vredesaktivis spandeer tussen Israel en Palestina. Sy en Oded het in die verlede siek Palestyne vervoer om behandeling by Israeliese hospitale te kry. Toe hulle ontvoer is, was Oded veronderstel om ‘n gesondheidsondersoek vir hoë bloeddruk te ondergaan.

“Hy het al hoe swakker geword,” het Sharone Lifshitz, die egpaar se dogter in die VK, aan The Guardian gesê.

Nadat Yocheved Lifshitz die hand geskud het van die Hamas-militant wat haar omhandig het, het sy vir hom “salom” gesê – die Hebreeuse woord vir vrede.

Saamgestel deur personeelskrywer

Op die foto hierbo: Yocheved Lifshitz, 85, het met joernaliste gepraat nadat sy deur Hamas vrygelaat is

Beeldbron: X