‘Wit kant!’ beteken toe glad nie wat Tom Curry gedog het dit doen nie

Bongi n Tom C-word

Deur Lucky Maree

Tom Curry het besluit Bongi Mbonambi snou hom ‘n rassistiese belediging toe, terwyl dit nou blyk dat Mbonambi glad nie aan hom gedink het nie.

In ‘n videogreep wat die afgelope 24 uur verskyn het, blyk dit dat Mbonambi “wit kant!” verskeie kere geskree het, en dit is duidelik ‘n opdrag vir sy medespelers, wat hulle waarskynlik waarsku dat die “wit” span (‘n verwysing na die wit truie van Engeland) hul aanval na die ander “kant” oorgeskakel het.

Die Bokke gebruik dikwels Afrikaans vir hul seine en boodskappe sodat die opponerende span hulle nie kan verstaan nie.

Wat ons ook deur die skeidsregter se mikrofoon op die veld hoor, is dat Curry kla dat Mbonambi hom rasseties beledig het. “Meneer! Meneer! Wat moet ek doen?!”

As dit nie so ernstig was nie, sou dit snaaks gewees het.

Suid-Afrika is ‘n land met ‘n geskiedenis van rassekwessies. Terwyl die mense op die grond daaraan gewerk het om versoening ‘n werklikheid te maak, het baie politici van alle spektrums verseker dat die spanning net onder die oppervlak bly borrel.

Sedert 2018, toe Rassie Erasmus as Springbokafrigter oorgeneem het, het hy berge versit om die nasie in sport te verenig en rassekwessies feitlik te verban – uit rugby in die algemeen en spesifiek by die Springbokke.

Erasmus en spelers soos Siya Kolisi, het ‘Stronger Together’ ’n slagspreuk gemaak waaroor meeste Suid-Afrikaners mal is.

En dan kom Tom Curry. Die feit dat dit nou ‘n kwessie is wat Wêreldrugby ondersoek – en wat die Springbokke verplig is om ernstig op te neem – is skandalig. Maar dit is meer as die denkbeeldige rasse-belediging wat Tom Curry opgedis het; dit is ‘n klad op hom en die hele Engelse span.

Bongi Mbonambi is in die beskuldigdebank, en wie weet wat Bill Beaumont en die vrolike manne van Wêreldrugby gaan besluit. (Hulle het dieselfde begrip van die Afrikaanse taal as Tom Curry.) Hulle mag dalk vir Mbonambi dwing om verskoning te vra, maar hy is nie die een wat sy kop in skaamte moet laat sak nie.

Op die foto hierbo: Tom Curry en Bongi Mbonambi

Bron: X