Deur Anita Dangazele
Vir ‘n werklose pa van Mthatha het die verleentheid om sy kinders elke oggend op sy rug skool toe te dra die inspirasie geword wat hom gedryf het om sy motor van niets af te ontwerp en te bou.
Tydens daardie lang staptogte skool toe het Mnqweno Nomgca se voorneme om sy eie stel wiele te hê daagliks momentum opgebou.
Maar hy het nog nooit in sy hele lewe ‘n vaste werk gehad nie, so hoe sou hy dit vermag?
Mnqweno het gesê sy belangstelling in motors het ontwikkel toe sy pa vir hom as 11-jarige, en vir sy broers en susters leer bestuur het.
Die idee om vir hom ‘n motor te bou het ses jaar gelede ontstaan toe hy ná ‘n lang siekbed uit die hospitaal ontslaan is.
Dit het tot hom deurgedring dat hy amper sy hele lewe ander mense se motors reggemaak het, en hy kon dus sy eie kar bou met al die ervaring wat hy opgedoen het.
“Ek het nog nooit in my lewe ‘n permanente werk gehad nie, maar ek was in staat om los werkies te doen om mense se motors reg te maak,” het hy gesê.
Hy het begin deur sy kinders se stapelbed in stukke te sny om ‘n raam vir die motor te bou. Hy het toe ‘n klopjag op ‘n skrootwerf uitgevoer vir motoronderdele wat anders mense weggegooi het.
“My kinders het gedink ek is mal toe ek hulle bed vat en hul vra om op die matras te slaap sodat ek my kar kan bou,” het hy gesê.
“Ek het na skrootwerwe gegaan en die helfte van ‘n motordak, staalpype, elektriese drade en amper alles gekry wat ek benodig het om my motor te begin bou,” het hy gesê.
Hy vertel dat hy toe begin het om ‘n ontwerp op te trek van hoe hy wou hê sy motor moet lyk.
“My bure en naastebestes het my begin gerusstel dat ek dit sou kon regkry, en sommige van hulle het selfs ingespring deur materiaal te koop om my droom ‘n werklikheid te maak.
“Met verloop van tyd kon ek ‘n paar ander parte koop en byvoeg, soos mag-wiele, ligte, en ander goed,” het Mnqweno gesê.
Hy het gesê dit het hom twee maande geneem om die motor gedurende November en Desember van 2017 te voltooi.
Hy word glo gereeld deur verkeersbeamptes voorgekeer, wat hom al baie keer vertel het dat hy nie met sy motor op die pad mag ry nie, aangesien dit nie padwaardig is nie.
Waar hy ookal gaan, lok sy motor honderde bewonderaars wat gefassineer is deur sy unieke ontwerp.
“Baie mense het al aangebied om die motor by my te koop, maar dit is my kinders se nalatenskap,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat hy slegs van sy motor sal afskeid neem as ‘n gerespekteerde motorvervaardiger hom nader.
“My kinders sal een of ander vorm van tantième daaruit moet kry. Onthou, ek het hul bed gevat en dit in stukke gesny om hierdie kar te maak,” het hy gesê.
Op die foto hierbo: Mnqweno Nomgca se handgemaakte motor.
Bron: Verskaf