Hou daai oog op die bal

Boks keeping their eye on England

Deur Lucky Maree

Toe die applous uiteindelik bedaar het na die Springbok-sege oor Frankryk in hul Paryse agterplaas, het die gesprek verskuif na die spankeuse vir die wedstryd teen Engeland.

Die meeste kantlynkenners het gedink om teen Engeland te speel sou blote kykvermaak wees, en dus ‘n geleentheid om “van die ander spelers ‘n kans te gee”.

Ons weet immers almal hoe goed spelers soos Canan Moodie, André Esterhuizen, Jasper Wiese en Jean Kleyn sover in die toernooi gevaar het, en verdien hulle nie daarom ‘n bietjie speeltyd nie?

Die afrigters sal sekerlik in die versoeking wees om Lukhanyo Am en André Esterhuizen in te bring om hulle te toets vir die verwagte eindstryd volgende week.

Aan die ander kant, soos die stof deur die week gaan lê het, het die vertonings van Damian de Allende en Jesse Kriel in die kollig gekom. Hulle was op ‘n heel ander vlak. Vervang mens hulle nou?

Toe kondig Nienaber en Rassie ‘n onveranderde span aan. En as jy daaroor dink, is dit die regte besluit.

Dit bewys sonder twyfel dat die Suid-Afrikaanse kamp hierdie wedstryd net so ernstig opneem as vir Frankryk.

Nienaber het by navraag gesê hulle dink nie aan die eindstryd nie.

“Dit sou ‘n belediging vir Engeland wees,” het hy gesê. Met hierdie spankeuse bevestig hulle dat hierdie wedstryd net so belangrik is soos enige ander tydens die Wêreldbeker.

Suid-Afrika: 15 Damian Willemse, 14 Kurt-Lee Arendse, 13 Jesse Kriel, 12 Damian de Allende, 11 Cheslin Kolbe, 10 Manie Libbok, 9 Cobus Reinach, 8 Duane Vermeulen, 7 Pieter-Steph du Toit, 6 Siya Kolisi (k ), 5 Franco Mostert, 4 Eben Etzebeth, 3 Frans Malherbe, 2 Bongi Mbonambi, 1 Steven Kitshoff.

Plaasvervangers: 16 Deon Fourie, 17 Ox Nche, 18 Vincent Koch, 19 RG Snyman, 20 Kwagga Smith, 21 Faf de Klerk, 22 Handre Pollard, 23 Willie le Roux.

Op die foto hierbo: Die Bokke vier hul oorwinning oor Frankryk

Bron: Springbokke