Deur Everson Luhanga
‘n Intelligensie-gedrewe optrede waarby die SAPD, Durbanse hawe en KwaZulu-Natal se Valke betrokke was, het gelei tot ‘n massiewe kokaïenvonds ter waarde van R70 miljoen.
Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê SAPD-lede by die Durbanse hawe het die afgelope maand ‘n vaartuig dopgehou wat van Brasilië af na Suid-Afrika gereis het.
Mathe het gesê voordat die skip by die Durbanse hawe aangekom het, het lede dit onderskep en ‘n soektog en beslaglegging op sekere houers uitgevoer – spesifiek dié waarin 20-liter verfblikke verpak was.
Gesink binne die verf het die polisie reuse-pakke kokaïen gevind – altesaam 200 blokke ter waarde van R70 miljoen.
SAPD-bestuur, onder leiding van die Minister van Polisie, Generaal Bheki Cele, het die noukeurige ondersoekwerk geprys.
“Ons sal voortgaan om die gesag van die staat af te dwing. Ons versterk ons reaksie en ons strategie in die hantering van hierdie sindikate,” het Cele gesê.
Die Nasionale Kommissaris van die SAPD, Generaal Fannie Masemola, het gesê die Nasionale Veiliger Feesseisoen-operasies kry momentum.
Hy het die spanne wat by die ontdekking van die dwelms betrokke was op die skouer geklop.
“Dit is maar die begin van ons veiliger feesbedrywighede. Net verlede week het ons R75 miljoen se vervalste goedere in Kaapstad gekonfiskeer. Ons sal voortgaan om hierdie onwettige aktiwiteite regdeur die land te onderskep,” het Masemola gesê.
“Ons verskerp ons stryd teen misdaad, veral georganiseerde misdaadsindikate. Hierdie spesifieke ondersoek sal fokus op die oorsprong en bestemming van die dwelms om te verseker dat ons arrestasies bewerkstellig.”
Mathe het gesê voor die dwelmvonds onthul is, het die afvaardiging onder leiding van Cele die families van Adjudant Offisier Sthembiso Mazibuko besoek, wat gister tydens ‘n operasie in Ntuzuma doodgeskiet is.
Hy het 17 jaar diens agter die blad gehad en was verbonde aan die Nasionale Intervensie-eenheid. Begrafnisbesonderhede sal mettertyd bekend gemaak word.
Die afvaardiging het ook ‘n kollega in die hospitaal besoek wat in dieselfde operasie beseer is.
Op die foto hierbo: 200 Blokke kokaïen gevind in verfblikke
Bron: SAPD