Wêreldbeker bordjies verhang toe Bokke die Hane nekomdraai

Bokke South v North

Deur Andy Capostagno

As iemand voor die einde van die groepfases voorgestel het dat Engeland die laaste Sesnasies-span sou wees, was hulle beslis by die groendakkies ingeboek.

Feit van die saak is, dit het ‘n laat skepdoel en ‘n senuweeagtige strafskop geverg vir die 2003 Wêreldkampioene om Fidji te klop en ‘n suidelike halfrond skoonskip te vermy.

Dié wedstryd in Marseille het op 24-24 vasgesit met agt minute speeltyd oor.

Maar dit het in onbeduidendheid vervaag in vergelyking met die wedstryd wat ‘n paar uur later in Parys afgeskop het.

Suid-Afrika se oorwinning van 29-28 oor die gasheerland Frankryk was ‘n wedstryd vir die eeue.

Die spanne het ses drieë in die eerste helfte gedruk wat ‘n tikkie delirium gevoeg het by die 80,000-sterk stampvol stadion. Maar die lewendige wedywering van daardie 40 minute was vergete teen die tyd wat die tweede helfte die vioolsnaar tot breekpunt gespan het.

Frankryk moes die knoop in die derde kwart deurgehaak het, met die Bokke se 14-man situasie vir helfte daarvan. Jacques Nienaber en Rassie Erasmus het die oomblik herken en vroeë veranderinge aangebring wat later dividende sou betaal.

Op die uurmerk was Frankryk oorheersend met beide gebied en balbesit, maar hulle kon nie punte aanteken nie. In plaas daarvan het Eben Etzebeth eers deur die Franse verdediging gewaad soos ‘n wafferse Gulliver op Lilliput, en toe het Handre Pollard ‘n strafskop van 55 meter af oorgeskiet.

Daardie 10 punte in drie minute was een te veel vir Frankryk.

Die gelukkige skare wat kaartjies vir albei kwarteindrondtes  in Parys gehad het, het die rugbybederf van ‘n leeftyd geniet: die Ierland/Nieu-Seeland wedstryd Saterdagaand was amper so goed soos Suid-Afrika/Frankryk.

Amper, maar nie heeltemal nie, die laaste spyker in die hoopskis van Europa se bestes.

Met hul rug teen die muur het die All Blacks hul beste vertoning sover onder afrigter Ian Foster uitgehaal. Hulle het ‘n soort direkte rugby gespeel wat Ierland, en veral hul kaptein, Johnny Sexton, as ietwat te lank in die tand ontbloot het.

Nieu-Seeland speel nou in Vrydagaand se halfeindstryd teen Argentinië in Parys, nadat die Pumas ‘n toegewyde Wallis oorleef het wat die hele toernooi lank verwagtinge oortref het met hul spel.

Die Springbokke speel Saterdagaand in dieselfde stadion teen Engeland, en dit is veilig om te voorspel dat die bronsmedalje-wedstryd tussen Engeland en Argentinië sal wees.

Op die foto hierbo: Die Springbokke teen Frankryk

Bron: X