Deur Zukile Majova
Almal is mal oor ‘n wenspan.
Nog meer so politici wat altyd byderhand is om die harde werk van ander as hul eie te eis.
En so was dit ook die naweek, toe verskeie ANC-politici elke beskikbare platform gebruik het om hul steun aan die nasionale rugbyspan, die Springbokke, te beloof.
Die Bokke het Sondagaand die rugbywêreldbeker-gasheer Frankryk die stryd aangesê en ‘n deurslaggewende wedstryd gewen. Die All Blacks het gelyk of hulle die weg vir die Bokke gebaan het toe hulle wêreld nommer een, Ierland, uit die toernooi geboender het.
Vir byna drie dekades is die Springbok-span in die ANC en sy bondgenote se visier, met klagtes dat die span nie genoeg transformasie wys nie, swart spelers kort, en nie die land se demografie weerspieël nie.
Verskeie strategieë is deur verskeie sportministers afgedwing, insluitend ‘n sogenaamde kwotastelsel om Afrikane by die span in te sluit.
Geen hardwerkende speler wil bekend staan as ‘n kwotaspeler nie – en so het daardie stelsel misluk.
Maar sonder die kwotastelsel is die Bok-kamp geseën met topspelers van kleur, insluitend Chester Williams, Brian Habana, Tendai ‘Beast’ Mtawariri, Lukhanyo Am, Makazole Mapipi, Siya Kolisi en ander.
Net drie maande gelede het die president van SA Rugby die samestelling van die Springbok-span verdedig teen kritici wat gekla het die span is steeds te wit.
“Jy moet na rugby as ‘n geheel kyk, veral na ‘n Springbok-span… mens moet in ag neem dat die demografiese samestelling van ons span, as jy na die groep in sy geheel kyk, korrek is,” het hy aan Cape Talk gesê.
Die ANC was gretig om sy nuutgevonde liefde vir die Springbokke te bewys en het Sondag ‘n verklaring uitgereik waarin gesê word dat die Bokke ‘n “simbool van eenheid, diversiteit en uitnemendheid in Suid-Afrika is”.
“Op hierdie dag onthou ons met deernis daardie geskiedkundige oomblik in 1995 toe President Nelson Mandela en Francois Pienaar die trofee gelig het na ‘n beslissende oorwinning deur die Bokke.”
President Cyril Ramaphosa het in ‘n oproep aan Springbok afrigter Jacques Nienaber gesê dat hy na Frankryk sal reis vir die eindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi, en hoop om die Webb Ellis-trofee dié aand te lig.
ANC sekretaris-generaal Fikile Mbalula het ook ‘n party media inligtingsessie gebruik om te sê: “Let’s go, Bokke – moer hulle!”
Die regerende party is onder druk om Suid-Afrikaners deur ‘n gemeenskaplike erfenis te verenig voor ‘n politiek gelaaide jaar van verkiesings, wat sal uitloop op die nasionale algemene verkiesing van 2024.
Op die foto hierbo: SA se #1 sportbewonderaar Mama Joy het skielik klomp politici aan haar spreekwoordelike sy
Bron: Scrolla.Africa annale