Kitchen Story, ‘n gewilde restaurant in San Francisco, het ‘n unieke afskrikmiddel ingestel vir laat-ontbyt entoesiaste wat nie hul mimosas kan hanteer nie: ‘n R1,000 “opgooifooi”.
Terwyl hul 60-minuut onbeperkte mimosas ‘n groot skare lok, het die restauranteienaars gevoel dat dit tyd is om die gereelde post-mimosa gemors wat deur oorgretige kuierkoppe agtergelaat word, hok te slaan.
“Drink moet ‘n aangename ervaring wees, nie een wat ander klante en personeel verontrief nie,” het Chaiporn Kitsadaviseksak, die keelvolle mede-eienaar van Kitchen Story, opgemerk.
Besoekers aan die restaurant se toilette sien nou ‘n kennisgewing wat hulle waarsku oor die skoonmaakfooi, sou hulle in openbare areas siek word, het New York Post berig.
Mimosa-skemerkelkies bestaan uit sjampanje en verkoelde sitrussap, gewoonlik lemoensap, en word verbind met feestelike geleenthede. Terwyl bodemlose brunch-aanbiedings, veral dié met mimosas, in gewildheid toegeneem het, strek die gevolge soms verder as wat die restaurante in gedagte gehad het.
Video’s op sosiale media wys sommige gaste in situasies wat groot verleentheid tot gevolg het. Een vrou het byvoorbeeld haar voortande verloor tydens ‘n ondeurdagte toertjie nadat sy te veel mimosas in haar keel afgegooi het.
Sedert hulle die fooi ingestel het, berig Kitchen Story dat hulle geen verdere voorvalle gehad het van gaste wat opgooi nie.
Saamgestel deur personeelskrywer
Op die foto hierbo: Mimosas