Kaapstad burgemeester loods veldtog teen afpersing

City of Cape Town v extortion

Deur Buziwe Nocuze

Kaapstadse gemeenskappe hoop dat die teenafpersingsveldtog wat Donderdag deur burgemeester Geordin Hill-Lewis van stapel gestuur is, positiewe resultate sal lewer.

Die veldtog, onder die slagspreuk ‘Enough is Enough, Genoeg is Genoeg, Kwanele’ is wyd verwelkom, veral deur sakelui wat beweer hulle word al vir veels te lank mishandel deur misdadigers wat geld eis.

‘n Besigheidseienaar, wat op voorwaarde van anonimiteit gepraat het, het gesê toe die beskermingsfooi-bende geld by buitelandse burgers begin insamel het, het hy nooit gedink dit sou binnekort ook plaaslike inwoners raak nie.

“Ons het agteroor gesit en kyk terwyl hulle ons Afrika-broers terroriseer… Ons hoop en bid dat hierdie teenafpersingsveldtog ‘n groot verskil sal maak en dat sakelui uiteindelik hul besighede sal kan bestuur sonder dat mense hul geld kom vat.”

Zintle Mbida, ‘n 40-jarige inwoner, het gesê die afpersbende het selfs geld begin eis van die armste onder die smouse, soos mense wat hoenderpote verkoop.

“Ek is bly dat die Stad iets probeer doen. My vriendin het ophou hoenderpote verkoop nadat ‘n groep mense vir haar gesê het sy sal ‘n bedrag van R500 per maand moet betaal. Sy het opgehou omdat sy nie hul prys kon bekostig nie.”

Hill-Lewis het gesê dat die eise van plaaslike afpersers vir beskermingsfooie beide basiese dienslewering en groot infrastruktuurprojekte belemmer.

“Ons is vasbeslote om ontwrigting van dienste te voorkom deur saam te werk met gemeenskappe – ons oë en ore om plaaslike afpersers uit te roei. Ons bied ook kontantbelonings aan vir waardevolle wenke wat tot arrestasie en vervolging lei,” het hy gesê.

As deel van die veldtog het die Stad ‘n 24-uur blitslyn en beloningstelsel daargestel om inwoners aan te moedig om die Stad en owerhede te help om afpersing aan te vat.

Reklameborde wat wys hoe om voorvalle aan te meld sal langs groot roetes opgerig word. Aanmelding kan anoniem wees.

“Afpersing is grootskaalse georganiseerde misdaad wat deur goed geoliede en baie winsgewende sindikate bestuur word. Die enigste manier om vir onsself op te staan, is om saam te staan ​​teen hierdie misdadigers,” het die burgemeester gesê.

Die bekendstelling is by die konstruksieterrein van nuwe MyCiTi-depots in Khayelitsha en Mitchells Plain gehou. Inmenging met veelvuldige kontrakteurs en afpersingspogings sedert Mei het die projek met etlike weke laat sloer, wat werk aan ‘n breër R60 miljoen se vervoerprojek beïnvloed het.

Op die foto hierbo: Kaapstad burgemeester Geordin Hill-Lewis het ‘n nuwe stadswye teenafpersingsveldtog in Khayelitsha geloods

Bron: Verskaf