Deur GroundUp
Die volgende uittreksel is geneem uit The Thabo Bester Story: The Facebook Rapist, the Celebrity Doctor and the Escape from Cell 35 – ‘n nuwe boek deur Marecia Damons en Daniel Steyn.
Nomfundo Tyhulu se verhouding met Thabo Bester het begin met ‘n leuen en geëindig met haar moord. Die bietjie wat bekend is oor wat tussen hulle gebeur het, is te danke aan hofgetuienis, maar dit is meestal gebaseer op Bester se weergawe, waarvan dele moontlik versin is.
Tyhulu het motors verkoop by die BMW-handelaar in Sandton wat Bester vroeg in 2011 besoek het om ‘n nuwe BMW 1-Reeks aan te skaf. Sy was 26 jaar oud. Bester het waarskynlik nie sy naam gebruik nie, maar hy het wel vir haar gesê hy werk aan ‘n televisieproduksie en dat sy goed sal pas as speler in die program. Hy het natuurlik nie genoem dat hy pas weens bedrog uit die tronk gekom het nie.
Hy het destyds in Durban gewoon terwyl sy in Johannesburg gebly het; hulle was gereeld in kontak deur middel van telefoonoproepe en SMSe. Vroeg in September 2011, agt maande nadat hulle ontmoet het, het Tyhulu vir Bester gebel om hom te laat weet sy begin in Oktober met ‘n nuwe werk.
Bester het besluit om haar voor die tyd Kaap toe te neem, met die belofte om haar in ‘n fotosessie te gebruik. Die paar het op 19 September na Kaapstad gevlieg en ingeboek by die One&Only – ‘n vyfsterhotel waar ‘n kamer tussen R13,000 en R36,000 per nag kos. Hulle het twee nagte daar gebly.
Op die 21ste het die twee by Roman Retreat op die sjiek Sunset Beach-landgoed ingeboek.
Daardie aand het hulle ‘n hewige argument gehad omdat Bester een van sy voormalige vriendinne gesien het. Tyhulu het gedink sy en Bester is “eksklusief”, maar Bester het steeds in die bondel gevry. Ná die rusie het hulle gaan slaap.
Om 2vm het sy wakker geword. Bester het ‘n mes op haar gerig en haar beveel om haar foon en skootrekenaar vir hom te gee. Hy het met die mes op haar afgestorm waar sy in die bed gelê het. Tyhulu het teen hom geskop en baklei en probeer om die mes uit sy hand te kry. So het dit aangehou totdat die gestoei skielik opgehou het. Sy het nou met haar gesig ondertoe gelê, die mes in haar bors en bloed wat die beddegoed insypel.
Bester het haar hande agter haar rug vasgebind met ‘n T-hemp. Hy het die wagwoord vir haar skootrekenaar geëis. Vyf uur later, om 7vm, het hy die kamer verlaat met ‘n sak met Tyhulu se skootrekenaar en selfoon. Hy het aan die eienaar van die gastehuis gesê sy slaap nog en moet nie voor 2nm gesteur word nie. Hy het gevra vir ‘n saamrygeleentheid na sentraal Kaapstad. Daardie aand was hy op ‘n vlug terug Durban toe.
Omstreeks 9nm het die eienaars van die gastehuis bekommerd geraak dat hulle niks van Tyhulu gehoor het nie. Hulle het die kamer binnegegaan en haar lewelose en bebloede liggaam ontdek.
‘The Thabo Bester Story’ is van Woensdag af te koop.
Hierdie artikel is oorspronklik deur GroundUp gepubliseer en geredigeer vir gebruik deur Scrolla.Africa.
Op die foto hierbo: Die omslag van die Bester-boek
Bron: GroundUp