Rizwan beklink Pakistan se wen

Mohammad Rizwan

Deur Razeen Gutta

Engeland en Pakistan het teen Bangladesj en Sri Lanka geseëvier op Dinsdag se dubbeledoor van IKR Krieket Wêreldbeker-wedstryde.

Sri Lanka het Pakistan nog nooit by ‘n Wêreldbeker-toernooi geklop nie. Met die spel se draai in Hyderabad het dit egter geblyk die 7-0 segereeks was op die punt om tot ‘n einde te kom vir die manne in groen.

Kusal Mendis (122) en Sadeera Samarwickrama (108) het Babar Azam en kie hard laat werk in die veld toe die Sri Lankane hul tweede agtereenvolgende 300+ telling in die toernooi ingepalm het.

Hierdie keer was hul 344/9 egter weereens nie genoeg nie.

Ondanks slordige veldwerk en die verlies van Azam vroeg in die tweede beurt, het Pakistan die vermoë en moed bymekaar geskraap om die wedstryd te wen. En dit was ook die hoogste suksesvolle lopiejaagslag in Wêreldbeker-geskiedenis.

Abdullah Shafique het 113 van 103 balle aangeteken terwyl Mohammad Rizwan ‘n ongelooflike onoorwonne 131 van 121 aflewerings gespeel het, om dit twee oorwinnings in twee wedstryde vir hul span te maak.

Die 345 lopies is met 10 balle oor en ses paaltjies in die hand gejaag, wat Pakistan na die tweede plek gestuur het voor hul kragmeting Saterdag met tradisionele teenstanders en toernooigashere, Indië.

In die vroeër wedstryd het Engeland Bangladesj met 137 lopies in Dharamsala geklop nadat Dawid Malan 140 aangeteken het om hulle op 364/9 na 50 boulbeurte deur te sien.

In reaksie hierop kon die Tiere net 227 vermag voordat hulle uitgeboul is – en Reece Topley was die keur van die Engelse boulers met 4/43.

Indië vat Woensdag vir Afghanistan aan voordat Suid-Afrika in Donderdag se krieketaksie teen Australië te staan ​​kom.

Op die foto hierbo: Mohammad Rizwan

Bron: @theralpcb