In Limpopo het slegs een uit drie siele ‘n spoeltoilet

Cyril receives Census '22

Deur Zukile Majova

Duisende Suid-Afrikaners hardloop steeds bos toe wanneer daar ‘n draai geloop moet word.

Minstens 18% van die bevolking het geen gepypte water in hul huise of op hul erwe nie.

Dit is die nare werklikheid na 30 jaar van ANC-bewind, met Sensus 2022 wat bevestig dat miljoene swart mense steeds in ellende leef, sonder selfs ablusiegeriewe.

Net 35% van mense in Limpopo het spoeltoilette; 36.8% van huishoudings gebruik gevaarlike puttoilette; 21.1% het die ewe gevaarlike putlatrines maar met ventilasiepype, en die res gebruik die veld.

In Mpumalanga, wat in 2019 oorweldigend vir die ANC gestem het (72.2%), het net 54.9% van mense spoeltoilette.

Dit is ‘n soortgelyke prentjie in die Oos-Kaap, waar slegs 58.7% van huishoudings spoeltoilette het.

Stedelike gebiede, insluitend die land se hoofstad Pretoria en die ekonomiese spilpunt Johannesburg, het ook duisende inwoners wat geen toilette het nie, en nog meer met geen toegang tot skoon drinkwater nie.

Die Stad Tshwane sukkel steeds om ‘n onlangse uitbreking van cholera te bekamp wat vanjaar 47 mense doodgemaak het, terwyl vermeende cholera-gevalle landwyd 1,290 bereik het met 199 gevalle wat bevestig is.

President Cyril Ramaphosa het Dinsdag die Sensus 2022-uitslae by die Uniegebou ontvang.

Dit was die vierde sensus sedert 1994.

Ramaphosa het gesê: “Ondanks die huidige uitdagings van beurtkrag, wat ons dringend aanspreek, moet ons aangemoedig word deur die byna universele toegang tot elektrisiteitsvoorsiening.

“Sensus 2022 het vir ons gewys waar ons vordering maak, maar dit het ook die uitdagings wat oorbly blootgelê.”

Sensus 2022 het verder getoon dat die bevolking van 51.7 miljoen in 2011 tot 62 miljoen in 2022 gegroei het.

IsiZulu bly die gewildste taal in die land met 24.4% van huishoudings wat dit praat, gevolg deur isiXhosa 16.3% en Afrikaans met 10.6%.

SA se Sensus 2022 het getoon dat die bevolking uit 50.5 miljoen Afrikane bestaan, wat meer as 81% van die totale bevolking uitmaak, gevolg deur kleurlinge (5.1 miljoen).

Op die foto hierbo: President Cyril Ramaphosa ontvang die uitslae van die SA Sensus 2022

Bron: X