Deur Lucky Maree
SA Rugby president Mark Alexander het dit ‘n skande en ‘n verleentheid vir die mense van Suid-Afrika genoem dat die Springbokke Sondag hul Wêreldbeker kwarteindstryd teen Frankryk mag aandurf onder ‘n neutrale vlag en sonder ‘n volkslied.
“Hierdie probleem het ontstaan omdat ons regering nie daarin geslaag het om nuwe wetgewing te laat promulgeer nie,” het hy gesê.
Suid-Afrika is veronderstel om aan die Wêreld Anti-Dwelm Agentskap (WADA) se regulasies te voldoen.
Volgens WADA is hul rol “om teen-dwelmreëls en beleide oor alle sportsoorte en lande te ontwikkel, te harmoniseer en te koördineer.”
Alexander het gesê die saak is nie aanvegbaar nie.
“Jy kan nie hierdie dinge verander nie. Jy moet dit eenvoudig by jou wetgewing insluit,” het hy gesê.
“Ons is veronderstel om aan WADA-vereistes te voldoen. Ons het versuim om ons wetgewing te verander om die vereistes in te sluit. Koppe moet rol.”
‘n Amptenaar van die Suid-Afrikaanse ministerie van sport het aan Agence France-Presse (AFP) gesê hulle kan moontlik by die Hof van Arbitrasie vir Sport in Switserland appelleer.
“Daar is geen kans dat ons in ‘n situasie sal wees waar ons spanne nie onder die Suid-Afrikaanse vlag sal speel nie,” het die amptenaar gesê, maar het nie verduidelik hoekom hulle nie net aan die regulasies voldoen het nie. Dit mag bloot ‘n administratiewe gerompslomp wees. Dat dit tot ‘n appèlsaak in die Arbitrasiehof kan lei, dra net by tot die verleentheid.
Gelukkig lyk die Springbokke in hul Toulonse oefenkamp min gepla oor die situasie. Die spelers, anders as die staat, is duidelik hard aan die werk om hul kant te bring – om ‘n span voor te berei vir een van die belangrikste rugbywedstryde in die geskiedenis van die sport in SA.
Dit is ironies dat ‘n land soos Suid-Afrika, waar ondersteuning van die Springbokke ‘n verenigende doel dien, hul nasionale trots laat kelder deur amptenare wat duidelik nie die sport ernstig opneem nie.
Die Protea-krieketspan wat tans in die IKR Krieket EDI Wêreldbeker speel, staar dieselfde lot in die gesig.
Hopelik sal die Bokke, in teenstelling met ons regeringsamptenare, nie die bal laat val wanneer dit kom by resultate teen Frankryk op Sondag nie.
Op die foto hierbo: Die Springbokke
Bron: X