Black Coffee leef sy Amerikaanse droom

Black Coffee

https://twitter.com/AfricaFactsZone/status/1710953595741352017

Black Coffee het Saterdag ‘n geskiedkundige uitverkoopte vertoning by Madison Square Gardens in New York City gehou, saam met spesiale gaskunstenaar Major League DJz.

Die Drive-treffermaker het elke liewe sitplek gevul in die wêreldbekende lokaal – wat meer as 20,700 mense akkommodeer, met ‘n gemiddelde kaartjieprys van $137 (sowat R2,700) vir hierdie vertoning.

Die sterbelaaide gebeurtenis was tjokvol optredes deur ondermeer Bucie, Delilah Montagu, Maxine Ashley, Monique Bingham, Mr V, Msaki, Portia Monique, Shoba, Soul Star, Roland Clark, Zoe Kypri, WhoMadeWho, en ‘n 12-stuk orkes.

Die DJ, wat nou 47 is, het die eerste keer internasionaal aandag getrek deur ‘n BET-toekenning in 2016 te wen en ‘n Grammy vir beste dans/elektroniese album die jaar daarna.

Minister van kuns en kultuur Zizi Kodwa het Black Coffee se beduidende bydrae tot musiek erken en sy prestasies geprys.

“Black Coffee as hooftrekpleister by Madison Square Gardens is ‘n historiese aangeleentheid, en wys daar is eindelose moontlikhede vir Suid-Afrikaanse musikante. Ons is daartoe verbind om ‘n wêreldwye gehoor aan ons kunstenaars bloot te stel,” het Kodwa gesê.

Black Coffee – regte naam: Nkosinathi Maphumulo – het in Durban grootgeword en toe ontaard in een van Mzansi se mees gevierde platejoggies. Hy’s ‘n ou hand in Ibiza en hang uit met wêreldberoemde sterre soos Drake, Alicia Keys en P Diddy.

Sosiale media-sensasie Carpo het gesê Black Coffee se lewe is ‘n storie waaruit baie minderbevoorregte jongmense inspirasie kan put.

In ‘n Instagram-plasing het Black Coffee gesê: “Dit was nog altyd een van my grootste drome om hierdie musiek en klank na die hoogste moontlike vlak te vat en die grootste gehoor denkbaar daaraan bloot te stel. Ek droom dus al vir baie jare van my debuut Madison Square Gardens.”

Saamgestel deur personeelskrywer

Op die foto hierbo: Black Coffee

Bron: X