‘n Reeks aardbewings het die weste van Afghanistan Saterdag getref, en teen Sondagoggend tot meer as 2,000 sterftes gelei.
‘n Aardbewing wat sowat 6.3 gemeet het op die Richterskaal, gevolg deur agt sterk naskokke, het Saterdag huise in 13 dorpe en die provinsiale hoofstad, Herat, in die weste van Afghanistan, verwoes.
Volgens Taliban-regeringswoordvoerder Zabihullah Mujahid is “2,053 martelare in 13 dorpe dood; 1,240 mense beseer en 1,320 huise heeltemal vernietig.”
Inwoners het gesê feitlik alles in hul huise is vernietig.
Nek Mohammad, 32, het gesê hy was by die werk toe die eerste aardbewing Saterdagoggend gebeur het.
“Ons het by die huis gekom en gesien daar is eintlik niks oor nie. Alles het in sand verander.
“Op die oomblik het ons niks nie. Geen komberse of enigiets anders nie. Ons word snags hier buite gelaat saam met ons martelare,” het hy gesê.
Nog ‘n inwoner, die 42-jarige Bashir Ahmad, het gesê baie huise het inmekaargeval na die laaste skudding.
“Diegene wat in die huise was, is begrawe,” het hy gesê. “Daar is families van wie ons nog geen nuus gehoor het nie.”
Dit is die tweede aardbewing wat die verarmde land tref.
Verlede jaar in Junie is meer as 1,000 mense dood terwyl duisende dakloos gelaat is nadat ‘n aardbewing van M5.9 die verarmde provinsie Paktika geruk het.
Dit kom te midde van ‘n humanitêre krisis na die wydverspreide onttrekking van buitelandse hulp, ná die Taliban se terugkeer aan bewind in 2021.
Saamgestel deur Anita Dangazele
Op die foto hierbo: Afghaanse inwoners sit bo-op die puin ná ‘n hewige aardbewing Saterdag
Bron: Mohsen Karimi/AFP