Eiers skaars soos hoendertande

Wie's eerste, hoender of eier?

Kleinhandelaars het beperkings op eieraankope gestel namate die voëlgriep-uitbraak voortduur, wat ‘n groot eiertekort veroorsaak.

Woolworths laat ‘n maksimum van ses eiers per klant toe, tensy winkels oorblywende voorraad van 18 of 36 eierpakke het.

“Weens die tekort aan eiers wat deur voëlgriep veroorsaak word, prioritiseer ons beskikbare heel eiers wat aan ons veiligheid- en kwaliteitstandaarde voldoen,” het die maatskappy in ‘n amptelike verklaring verduidelik.

“Ons beperk dus tydelik die aankope van heel eiers.”

Pick n Pay sal ook aankope beperk op grond van streekbehoeftes. “Ons vra kliënte om verantwoordelik te koop,” het hulle gesê.

Dinsdag het Sixty60, Checkers se aanlyn-inkopie app, alle eierhandelsmerke deur die bank as “uit voorraad” vertoon.

Alhoewel Shoprite geen beperkings op aankope ingestel het nie, bestuur hulle voorrade om tekorte te hanteer.

Die voortslepende voëlgriepkrisis, wat beskryf word as die ergste sedert 2017, sal na verwagting beide hoender- en eierpryse laat styg.

Daar is berigte oor die invoer van miljoene bevrugte eiers om te vergoed vir plaaslike tekorte, maar besonderhede kon nie bevestig word nie.

Die H5-variant van die siekte word in die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal verduur, terwyl die dodeliker H7-tipe algemeen voorkom in streke soos Limpopo, Noordwes, die Vrystaat en Mpumalanga.

H7 is kommerwekkend aangesien dit vir langer onopgemerk bly by hoenders, wat die virus wyer versprei.

Protokolle vereis die vernietiging van hoenders en eiers binne 3km van ‘n gebied waar voëlgriep uitgebreek het.

Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging het uitgewys dat daar reeds vanjaar meer as vyf miljoen kommersiële lêers en sowat 2.5 miljoen braaikuikens van kant gemaak is. Hulle het verbruikers verseker dat besmette hoenders nie die mark sou binnedring nie.

Saamgestel deur personeelskrywer

Op die foto hierbo: Eiertekorte dreig