Die vloed is verby, nou begin die lyding

Mnr Arendse van Genadendal

Deur Liezl Human

Kleinskaalse boer Johannes Arendse kon Vrydag vir die eerste keer toegang tot sy gemeenskaplike plaas buite Genadendal kry nadat die Wes-Kaapse storm die grond verlede naweek oorstroom het.

Byna 500 hoenders het verdrink en meer as 50 varke word vermis. Verskeie kalwers en twee honde is in die storm dood.

“Alles was onder water. Alles. Dit was meer as ‘n meter diep. Dit was die ergste storm wat ek in 25 jaar van boer in die omgewing beleef het,” het hy gesê.

Toe GroundUp die plaas Maandag besoek het, was die pad byna onbegaanbaar. Verskeie dele van die plaas was nog onder water. Werkers het probeer om te red wat hulle kon. Sommige was besig om dooie vee te begrawe.

Die plaas, wat tussen Genadendal en Greyton geleë is, verskaf groente aan die Greyton-mark sowel as markte in Epping en Mowbray in Kaapstad.

Arendse het gesê die aand voor die storm het hulle die veekrale oopgemaak. Sommige diere het na hoër grond beweeg, ander het in hul krale gebly en in die storm gevrek. Hy het gesê baie varkies is skoonveld.

“Een het hier uit die bos  uit gekom, maar ons kan die ander nêrens kry nie,” het hy gesê.

Die plaas word gemeenskaplik deur sewe kleinboere van Genadendal bestuur, met ‘n verdere 12 plaaswerkers in diens.

Skade aan infrastruktuur, insluitend ‘n versnipperaar en kafsnyer wat weggespoel het, sal honderdduisende rande beloop, het Arendse gesê. Hulle het geen versekering vir so ‘n ramp nie.

Jacqueline Swartz, wat op die plaas werk, het gesê hulle het daarin geslaag om baie saailinge te verhaal.

“Maar ons het nie grond om te plant nie. Dit is te nat,” het sy gesê.

“Die plate water gaan nog lank staan. Ons sal sien of die plante die modder oorleef.”

Gift of the Givers het die dorp te hulp gesnel.

Dele van die N2 is steeds versper en groot ompaaie moet geneem word om by Caledon, Greyton en Genadendal uit te kom.

Wouter Kriel, woordvoerder van die plaaslike LUR Anton Bredell, het aan GroundUp gesê: “Die provinsie is besig om skade te verhaal en te bepaal. Dit sal tyd neem en ons sal beskadigde infrastruktuur herstel so vinnig as wat begrotings en mannekrag dit toelaat.”

Hierdie artikel is oorspronklik deur GroundUp gepubliseer en geredigeer vir gebruik deur Scrolla.Africa.

Op die foto hierbo: Johannes Arendse sê skade by die gemeenskaplike plaas in Genadendal sal honderdduisende rande beloop

Bron: GroundUp