Alaska se bonkigste bere veg vir vetkroon

Fattest bear in Alaska?

Van dikpels gunstelinge tot snoesige nuwelinge, hierdie plomp bere is gereed om hul gewigstoename voor die winterslaap ten toon te stel tydens Vetbeerweek.

Twaalf boepensbere van Katmai Nasionale Park in Alaska gaan dit snoet-tot-snoet uitwoed in hierdie aanlyn stemkompetisie.

Met vorige kampioene soos 747 – die ‘Big Boss’ beer wat ‘n tweemalige wenner is en dalk die weegskaal by ‘n allemintige 725kg kan laat draai – tot driemalige titelhouer Otis, bekend vir sy ikoniese bloksnoet en ‘n hangoor, sal die kompetisie beslis propvol drama wees.

Die reëls is eenvoudig: deelnemers stem tussen twee bere, en die dikste kampioen vorder om die volgende mededinger die stryd aan te sê. Die finale rondte gebeur volgende Dinsdag, wanneer die molligste kampioene gekroon sal word.

Hierdie gebeurtenis is amper afgestel as gevolg van regeringsuitdagings, maar gelukkig kan ons steeds die bere in al hul dikgevrete glorie aanskou.

Die eerste wedstryd? Hou 806 Jr, die snoesige Fat Bear Junior lentewelpiewenner dop terwyl hy in die kryt klim met 428, ‘n wulpse jong wyfie.

En om die hartsnare te roer: 402, wat verlede jaar een van haar welpies verloor het, is terug om aanhangers te bekoor met haar fenomenale visvang-finesse.

Verlede jaar se halfeindronde het ‘n beergrootte geskarrel afgegee, met bewerings van stembus-kokery. Maar ná ‘n hertelling het 747 sy oorwinning beklink – wat ons almal laat wonder of hy weer vanjaar sal koningkraai.

Saamgestel deur personeelskrywer

Op die foto hierbo: Beer 747

Bron: Twitter