Gqeberha geruk deur ses skietmoorde op een dag

Ses geskiet in PE se noordelike gebiede

Deur Anita Dangazele

Ses mense is Maandag doodgeskiet in ses afsonderlike voorvalle net ure uitmekaar in Nelson Mandelabaai se noordelike gebiede.

Een slagoffer, Lyell Minnaar, 32, wat met leergestremdhede geleef het, is in die agterkop geskiet terwyl hy besig was om tydens sy oggendritueel te vee voor sy gesinshuis in Fitchardstraat, Helenvale.

Die slagoffer se familie het gesê hulle het ‘n geweerskoot gehoor en toe hulle uitgaan om ondersoek in te stel, het die liggaam van hul “liewe Lyell” in ‘n plas bloed gelê.

Hy is deur sy geliefdes beskryf as ‘n gawe jong man, wie se lewe om sy agtjarige dogter gedraai het.

Minnaar was twee jaar tevore in ‘n motorongeluk betrokke, wat hom fisies en verstandelik gestremd gelaat het.

“Sedert sy ongeluk het hy elke dag wakker geword en by sy dogter ingekyk voordat hy die besem gaan uithaal het om buite die huis en voor ons erf te vee. Hy het dit elke dag sonder versuim gedoen. Hy het niks aan niemand gedoen nie; hy het nie verdien om so te sterf nie,” het sy tante Mina Maarman gesê.

Hy was een van minstens ses mense wat binne net 24 uur hul lewens weens gewelddadige skietery in dié gebied verloor het.

Onder hulle was die 20-jarige Nadowin Lessing, wat net ure voor Minaar geskiet is. Lessing se koeëlbesaaide liggaam is net ‘n paar meter van sy huis af gevind.

Polisiewoordvoerder Kolonel Priscilla Naidu het die skietvoorvalle bevestig en gesê die polisie ondersoek nog vier ander gewelddadige sterftes in die gebied.

“‘n Verbyganger het die polisie in kennis gestel van ‘n lyk wat in ‘n voetpad tussen Rensburg- en Esterhuizenstraat in Arcadia gevind is. Die 26-jarige man is verskeie kere geskiet,” het sy gesê.

Naidu het gesê nog ‘n lyk is met ‘n skietwond in die kop in Barendsstraat gevind.

Sy het bygevoeg dat die polisie ook ‘n dubbele moord ondersoek aangesien nog twee liggame in die bosse langs Standfordweg in die noordelike gebiede gevind is.

DA-skaduminister van polisie, Andrew Whitfield, het ‘n beroep op Minister van Polisie Bheki Cele gedoen om dringend in te gryp by die voortslepende geweld in Gqeberha se noordelike gebiede.

“Die DA het voorheen die minister om hulp gevra, maar alle pogings sover val op dowe ore, terwyl geweldadige misdaad buite beheer raak.”

Op die foto hierbo: Illustrasiebeeld

Bron: Facebook/China+Suid-Afrika