Daar is geen gepypte water in my ouma se huis nie, geen water in my ma se huis nie, en geen water in my nuutgeboude huis in Mt Frere nie.
Drie geslagte ANC-kiesers met byna geen dienslewering van hul ANC-bestuurde munisipaliteit af nie.
Gesinne wat dit kan bekostig koop 5,000 liter Jojo tenke om reënwater op te vang en dis nie goedkoop nie. In die winter koop jong mans wat in Johannesburg werk water vir hul bejaarde ouers teen ‘n koste van R1,200 per tenk.
Dit is middelklas vir hierdie gebiede waar die res van die gemeenskap watergate met vee deel.
Die laaste keer toe ek by die huis was, het ons ‘n kragonderbreking gehad wat vir 16 uur lank aangehou het, met geen verduideliking van die ANC-beheerde Umzimvubu Plaaslike Munisipaliteit nie, en ook geen verskoning nie.
Niemand van ons het een verwag nie. Swak dienslewering is so normaal hier.
Met elke maandeinde slaap mense vir dae lank buite die Poskantoor en wag om hul R350 maandelikse toelaes te trek. Elke maand!
Dit is die norm en gebeur al vir baie jare.
Ek was nou die dag so beïndruk met Umngeni-burgemeester Chris Pappas wat lorrievragte lusern en veevoer aan plattelandse boere aflewer om hul vee deur die winter te sien.
Dit gebeur nie hier nie. In my dorpie verloor gesinne, waarvan die hoofde dikwels afgedankte en afgetrede mynwerkers is, hul vee in strawwe wintertoestande. Daar is geen hulp van die regering af nie.
Ons het verlede maand ‘n koei by een van ons familie-opstalle doodgemaak omdat ons bang was dat dit nie die wintersneeu sou oorleef nie.
Dit is nie duidelik wat die munisipaliteit nou eintlik doen vir hierdie gemeenskap nie.
Reuse slaggate in die hoofstraat in die dorp is al jare lank daar. Elke keer as ek van Johannesburg af terugkeer, word die gapende lokvalle net wyer en dieper.
Daar is ondergrondse pypleidings na die dorpie Lubhacweni – die naaste woongebied buite Mt Frere se grense – maar daar is al vir langer as 10 jaar geen watertoevoer nie.
Die politieke vloek wat sê in ‘n demokrasie kry mense die regering wat hulle verdien, is veral waar in baie dele van die Oos-Kaap, waar mense ten spyte van ontbrekende dienslewering oorweldigend vir die ANC stem.
In my dorpie, Toleni Lokasie – wat Wyk 21 is – het ons 90.69% vir die ANC, 4.14% vir die EFF en 2.02% vir die DA gestem.
Ek was een van diegene wat by Toleni Junior Sekondêre Skool gestem het, en dus gehelp het om vir Suid-Afrikaners hierdie verleentheid van ‘n ANC-regering te gee.
Aanvaar my verskoning, maar aanvaar die realiteit dat my mense nie gaan ophou om vir die ANC te stem nie – ter nagedagtenis van Inkosi Nelson Rolihlahla Mandela. Ag Dalibhunga!
Op die foto hierbo: Die ANC het sy verkiesingsveldtog na die Oos-Kaap geneem en is soos helde ontvang