Deur Zukile Majova
’n Plan deur die EFF om die Stad Kaapstad Maandag tot stilstand te dwing, het selfs voor die aanvang van die 10km-optog in ‘n yslike mislukking ontaard.
Die staking is deur ‘n koalisie van ver-linkse organisasies onder leiding van die EFF georganiseer, maar was uiteindelik net te dik vir ‘n daalder – selfs vir die dikwels wettelose taxibedryf.
Die bedryf het die EFF die deur gewys voor die afsluitingsoptog, wat die party gereël het om namens die taxibedryf te veg.
Die land se grootste taxibedryfliggaam – die SA Nasionale Taxiraad (Santaco), verteenwoordigend van meer as 123,000 individuele taxi-operateurs wat nasionaal aan meer as 950 minibustaxi-verenigings behoort – het gesê dit kan nie amptelik met die staking geassosieer word nie.
Dit het gesê operateurs en taxibestuurders wat aan die staking wou deelneem is welkom om dit te doen, maar nie onder die Santaco-vaandel nie.
Dit is die tweede keer dat die taxi-bedryf die EFF se voorstelle vir so ‘n stilstandpoging van die hand wys. Die bedryf het gesê dat hy meer as R25 miljoen per dag verloor het tydens die hoogtepunt van Covid-19 inperkingsregulasies en nie ooghare had vir nog totale stilstande nie.
Die ANC, wat in ‘n alliansie met die SA Kommunistiese Party in die provinsie is, het ook kleinkoppie getrek wat die EFF-stilstand aanbetref, en gesê hy ondersteun vreedsame betogings, maar is gekant teen stilstande.
“Santaco in die Wes-Kaap is bewus van boodskappe wat op sosiale media en ander platforms sirkuleer van ‘n beplande taxi-staking en ons wil aan lede van die publiek herhaal dat dit nie ‘n Santaco-geleide of beplande stilstand/optog is nie,” het die taxiraad gesê.
Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, het vroeër gesê die EFF-optog sal ‘n mislukking wees aangesien die Stad Kaapstad ‘n ooreenkoms met Santaco-bestuur onderteken het.
“Ons verwag niks op Maandag nie. Veral oor die kwessie ter sprake, aangesien ons eintlik ‘n ooreenkoms met Santaco bereik het, en hulle uitdruklik aan lede opdrag gegee het om nie deel te neem nie.”
Marshall Dlamini, sekretaris-generaal van die EFF, was leier van die natwaslap protesoptog saam met voorbokke van ver-linkse organisasies, insluitend Land Party president Gcobani Ndzongana, PAC president Mzwanele Nyhontso, en leiers van die SA Nasionale Burgerorganisasie en Dudula Beweging.
Op die foto hierbo: Marshall Dlamini, sekretaris-generaal van die EFF, lei ‘n mislukte poging om die strate van Kaapstad af te sluit
Bron: @EFFWesternCape