Dit het alles gebeur by ‘n militêre basis in die VSA, toe ‘n mamma-beer en haar klein welpie nie die heerlike geure van ‘n oop Krispy Kreme-bussie kon weerstaan nie.
Oudergewoonte het die bestuurder sy bussie se deure oopgelos terwyl hy sy rondtes gedoen het by die geriefswinkel in Joint Base Elmendorf–Richardson in ysige Alaska.
Maar hierdie keer het hy twee harige klante gehad wat hulself gehelp het sonder enige vergoeding in gedagte.
Die paartjie het gelyk of hulle hul gate uit geniet, aan’t smul aan oliebolle vol konfyt en ander vars gebak.
Winkelbestuurder Shelly Deano se pogings om hulle weg te jaag deur op die voertuig se bak te slaan was vrugteloos.
“Ek het op die bussie geslaan maar hulle het nie beweeg nie. Ek kon hoor hoe hulle die pakkies en als oopbreek,” vertel Deano. “Ek het besef hulle gee nie ‘n duit om nie!”
Sekuriteit is uiteindelik ontbied, en na ‘n ruk van lawaaierige sirenes het die bere hulself uit die voete gemaak.
Nadat hulle kortliks voor die winkel geparadeer het, het hulle die bos in verdwyn met vol pense en, waarskynlik, ‘n lied in die hart.
Deano het genoem dat die bestuurder nou meer versigtig sal wees met sy aflewerings en seker sal maak dat die bussie deurentyd gesluit bly.
Alle basispersoneel sal van nou af verseker hulle het ‘n makker byderhand wanneer die asblikke uitgesit moet word, veral in die donker, het AP berig.
Saamgestel deur personeelskrywer
Op die foto hierbo: ‘n Beer wat oliebolle eet
Bron: Gegenereer deur KI-instrument Midjourney