Vyf fantastiese flaminke is waargeneem waar hulle pronk op Lake Michigan se kuslyn – byna 2,000km van hul geboorteland, Florida.
Die toneel was so fabelagtig dat omstanders in groot getalle opgeruk het om hierdie onverwagte BBPs te siene te kry.
Dit is die eerste keer ooit wat flaminke van dié aard in Wisconsin opgemerk is, sê voëlboffin Mark Korducki in ‘n AP-berig. Drie van die sonsoekers was gedos in pragtige pienk, terwyl twee jonger voëls ‘n grys jas vere gedra het.
Kenner Ryan Brady vermoed hulle is op hierdie noordelike trek gestuur deur die winde van Orkaan Idalia.
Die kragtige orkaan het Florida se kus laat in Augustus getref.
Jim Edelhuber, een van 75 voëlliefhebbers by die strand, het so tekere gegaan: “Dit is yslik. Dis net ongelooflik!”
Maar dis nie net Wisconsin nie: ander noordelike Amerikaanse state soos Indiana, Kentucky, Ohio en Pennsylvania het ook onlangs die geveerde gevierdes verwelkom.
Gewoonlik lê hierdie flaminke laag in Florida, langs die Golfkus, die Karibiese Eilande of in die noorde van Suid-Amerika, ver van Wisconsin se koue kus.
Plaaslike inwoner Debbie Gasper het gesê sy het die voëls nog net op eksotiese reise na Aruba gesien. Sy neem foto’s om aan haar Georgia-familie te wys en sê “hulle gaan dit nooit glo nie!”
Saamgestel deur personeelskrywer
Op die foto hierbo: Hierdie flamingo’s het op die verkeerde strand geland
Bron: Twitter