Gemaskerde Franse held – maar wie gee ‘n duit om vir Deysel?

Hannibal Dupont

Deur Lucky Maree

Dit blyk dat wanneer Frankryk se skrumskakel Antoine Dupont na die Wêreldbeker terugkeer, hy waarskynlik ‘n pasmaak masker sal dra om die beskadigde bene in sy gesig te beskerm.

Dit klink asof hy weer sal verskyn in Frankryk se kwarteindstryd, waarskynlik teen Suid-Afrika of Ierland.

Die reëls van Wêreldrugby maak voorsiening vir gesigmaskers wat nie dikker as 5mm is nie, en wat geen harde voorwerpe bevat nie (soos die bekende staal mondskerm van Hannibal Lecter se masker in ‘Silence of the Lambs’).

Hoe die dra van ‘n masker sy spel sal beïnvloed, moet nog gesien word. In alle waarskynlikheid, gegewe die Dupon-faktor, sal hy nie toelaat dat die besering of die masker sy spel belemmer nie.

Maskers is nie nuut in rugby nie. Die Suid-Afrikaanse sewesspeler Impi Visser het vroeër vanjaar by die Los Angeles-sewestoernooi ‘n masker gedra na ‘n stamp teen die kop.

Die Wêreldrugby-tugpaneel het intussen die Namibiese kaptein Johan Deysel met die boek gegooi vir die botsing tussen hom en Dupont in hul poelwedstryd op 21 September.

Die paneel het aanvanklik ‘n verbod van 12 wedstryde opgelê – ja, ‘n 12-wedstryd verbanning – wat met 50% verminder is weens versagtende faktore soos sy dissiplinêre rekord en verskoning aan Dupont.

Dissiplinêre rekord?

Deysel het ‘n onberispelike rekord as speler. Sy optrede as Namibiese kaptein was voorbeeldig inderdaad, in ‘n wat ‘n taai toernooi vir sy land is.

Die feit dat hy vir Dupont om verskoning gevra het is ‘n huldeblyk aan die man, nié ‘n aanduiding dat hy by Wêreldrugby wil gatkruip nie.

En ‘n laaste klap in die gesig: hy moet duikskool bywoon. Deysel speel op agtsteman, een van die hoogste botsingsgebiede op ‘n rugbyveld. Hy het geen rekord van slegte duikslae nie. Owen Farrell moes terug duikskool toe omdat hy nie geweet het hoe om te duik nie (hy weet steeds nie) – maar wat is Deysel veronderstel om hier te leer?

Wêreldrugby se paneel het gesê die duikslag is vererger deur die “graad van roekeloosheid betrokke by die oortreding, die kwesbaarheid van die slagoffer, en dié se aansienlike besering”.

Het die paneel, met die toedien van hierdie uitermatige slag, die feit in ag geneem dat die “slagofferspeler” die onaantasbare Antoine Dupont was? Het hulle oorweeg dat Johan Deysel vir die Vlak-2 Namibiese span speel en dus nie bekommerd hoef te wees oor ‘n herrie in die rugbywêreld nie?

Natuurlik nie! Hulle sou dieselfde maatreëls toegepas het as (sê nou maar) Johnny Sexton die oortredende speler was… akkoord?!

Op die foto hierbo: Antoine Dupont in ‘n masker wat hy op die veld mag dra

Bron: Facebook