Nelson Mandela Universiteit student op kampus doodgesteek

NMU student arrested after fatal stabbing

Deur Anita Dangazele

‘n Student van die Nelson Mandela Universiteit is in hegtenis geneem nadat hy ‘n medestudent by ‘n koshuis op die kampus noodlottig gewond het.

Polisiewoordvoerder Sandra Janse van Rensburg sê ‘n 23-jarige student is gearresteer nadat hy Saterdagmiddag by Gqeberha se Humewood-polisiestasie aangemeld het.

Hy het glo aanvanklik van die toneel gevlug.

Die insident waartydens die 28-jarige slagoffer, Mziwenene Tinza, op die toneel dood verklaar is, het Vrydag omstreeks 11.30nm by die Sanlam Studentedorp plaasgevind.

“Tinza en die verdagte was by hul studenteverblyf… toe hulle in ‘n argument gewikkel was en later handgemeen geraak het,” het Janse van Rensburg gesê. “Mziwenene is noodlottig in die bors gesteek.”

Die beskuldigde is in aanhouding en sal Dinsdag in die Gqeberha-landdroshof op ‘n aanklag van moord verskyn.

Zandile Mbabela, Nelson Mandela Universiteit woordvoerder, het gevra dat almal probeer kalm bly terwyl die polisie-ondersoek “sy gang gaan”.

“Die universiteit betuig sy diepste en mees opregte meegevoel aan die familie en vriende van die oorlede student,” het sy gesê.

“Die universiteit verbind hom tot samewerking met die betrokke wetstoepassingsagentskap regdeur hierdie proses en doen ‘n beroep op kalmte en sensitiwiteit terwyl die polisie-ondersoek sy gang gaan.

“Geraakte studente word aangemoedig om Emthonjeni Studentewelstand te nader, terwyl personeel toegang tot ondersteuning kan kry deur die beskikbare hulbronne vir personeelwelstand.”

Dit is die tweede moord op die kampus sedert Junie, toe ‘n 20-jarige vroulike student na bewering verskeie kere deur ‘n 22-jarige manstudent in haar kamer by die universiteit se George-kampus gesteek is.

Beeld hierbo ter illustrasie.

Bron: Twitter