Deur Zukile Majova
Julius Malema van die EFF en Fikile Mbalula van die ANC lei die stryd om jong swart stemme – al is albei van hulle relatief lank in die tand, met Malema 40 jaar oud en Mbalula 52.
Ten spyte van hul ouderdom, bly die twee mans gewild onder beide toegewyde en potensiële jong kiesers; Malema het meer as vier miljoen volgelinge op sosiale media platform X (voorheen Twitter), terwyl Mbalula vroeër vandeesmaand meer as drie miljoen volgelinge op sy kerfstok aangeteken het.
Mbalula, die ANC-sekretaris-generaal, bly die party se hoofhoop om jong kiesers na die ANC te lok, al moet president Cyril Ramaphosa hom dikwels daaraan herinner om sy toesprake te verfyn en dat hy hom nie meer soos ‘n “jong leeu” kan gedra nie.
Terwyl die ANC onlangs aan die nuwe leiers van sy ANC-jeugliga (ANCYL) opdrag gegee het om jong kiesers na die party terug te lok, bly Mbalula die werklike trekpleister vir jeugdige ANC-ondersteuners. Hy was vir ten minste twee dekades die regerende party se mees sigbare leier onder jongmense.
Hy het die weg gebaan vir Julius Malema om in 2008 tot ANCYL-president verkies te word, maar toe Malema in 2012 weens swak dissipline geskors is, het jongmense in die ANC weer opgekyk na Mbalula as de fakto-leier van die jeug.
Nadat hy uit die ANC geskors is, het Malema bykans die hele ANCYL leierskap met hom saamgesleep om die EFF te stig, wat ‘n radikale alternatief vir die ANC bied. Hy het hom beywer om die lae ekonomiese groei, werkloosheid en stadige pas van dienslewering onder die ANC regering aan te val.
Malema beweer die jeugstem het die EFF gehelp om 10.8% van nasionale stemme in 2019 te wen
In sy jongste strewe om meer jong mense by die stembus te kry, het Malema gedreig om die Onafhanklike Verkiesingskommissie na die Verkiesingshof te neem om toegang te eis tot die databasis van mense ouer as 18 wat nog nie geregistreer het om te stem nie.
“Die stelsel sal name, vanne en adresse hê van mense wat nog nie geregistreer het nie, sodat ons na daardie mense toe kan gaan en hulle kan oortuig om te stem,” het Malema gesê.
“Maar die OVK hou vas aan hul data. Ek het daarvoor gevra, ek het dit nie gekry nie,” het hy gesê.
Die jeug – mense tussen die ouderdomme van 14 en 35 – verteenwoordig een derde van Suid-Afrika se bevolking en het teen 2019 al op 17.84 miljoen gestaan.
Op die foto hierbo: Julius Malema en Fikile Mbalula speel die hoofrolle in die geveg vir die swart jeugstem
Bron: X (eks-Twitter)