Is Dupont se Wêreldbeker verby?

Antoine DuPont

Deur Lucky Maree

Die toekomstige deelname aan die Wêreldbeker-toernooi van een van rugby se grootste spelers hang in die weegskaal ná ’n kop-aan-kop botsing met die Namibiese kaptein Johan Deysel.

Franse skrumskakel en kaptein Antoine Dupont het die veld in die 44ste minuut verlaat om ‘n kopbeseringsondersoek te ondergaan. Die slegter nuus was dit het geblyk dat hy ‘n fraktuur in sy gesig opgedoen het, waarskynlik ‘n gebreekte wangbeen.

Deysel is gegeelkaart en die bunker het gou besluit dat die vuilspel na ‘n rooikaart opgegradeer moet word.

Allerhande rekords het getuimel toe Namibië met ‘n nederlaag van 14 drieë, 96-0 in die hek geduik het – maar die prys wat Frankryk betaal mag enorm wees.

Dupont, Frankryk se kaptein en skrumskakel word beskou as een van die beste spelers in die Wêreldbeker-toernooi en een van die top spelers ter wêreld. Hy is ‘n sleutelfaktor in Frankryk se veldtog om die Wêreldbeker te wen.

Nie net sal dit ‘n verwoestende knou vir Frankryk se kanse wees as hy uit die toernooi moes tree nie, dit sal ook ‘n hartseer gebeurtenis wees vir alle rugbyspelers; nie een van hulle sou wou sien dat hy die veld op hierdie manier verlaat nie.

* Teen Saterdag het die Franse bestuur laat weet dat Dupont hom binnekort weer by die groep sou aansluit, maar of hy weer sou speel was nog nie onthol nie.

Op die foto hierbo: Die beseerde Antoine Dupont

Bron: Twitter