Deur Zukile Majova
Daar is ‘n paar positiewe resultate vanuit die vredesending deur Afrika-leiers na die Oekraïne en Rusland in Junie.
President Cyril Ramaphosa het aan die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies gesê dat die sending gelei deur Afrika se eerste burgers ‘n regte stap was in die rigting van vreedsame dialoog om die oorlog in Rusland en die Oekraïne te beëindig.
Ramaphosa het gesê hy het ‘n vergadering met die Oekraïne se president Volodymyr Zelensky gehou ten tyde van die 78ste sitting van die VN se Algemene Vergadering in New York.
Hy het gesê president Zelensky het hom vertel dat ‘n mate van vordering gemaak is met sommige van die kwessies wat deur die afvaardiging van Afrika-leiers gelug is.
Ramaphosa het gesê hul eerste besoek aan Rusland en die Oekraïne was bedoel om ‘n grondslag van vertroue te bou in ‘n toekomstige oplossing van die konflik deur dialoog.
“Ons het gesê … kinders wat uit die Oekraïne verwyder is, moet terugbesorg word,” het hy aan die VN gesê.
“Ons het ook gesê dat die krygsgevangenes tussen die twee lande uitgeruil moet word.
“Ek het pas ‘n vergadering met President Zelensky gehou wat sê dat sommige van ons pogings deels vrugte afwerp aangesien die kinders nou terugbesorg word en gevangenes uitgeruil word.”
Hy het gesê Afrika-leiers hoop om dit op ‘n veel groter skaal te sien gebeur.
In Junie het Ramaphosa die afvaardiging van Suid-Afrika, Zambië, Comore, Kongo Brazzaville, Egipte, Senegal en Uganda gelei om Zelensky en Russiese president Vladimir Poetin te ontmoet.
Zelensky het Afrika-leiers verseker dat sy regering pogings aanwend om die Swartsee-graaninisiatief te implementeer sodat voldoende graan aan Afrika en wêreldmarkte voorsien kan word.
Op die foto hierbo: President Cyril Ramaphosa en Oekraïense president Volodymyr Zelensky by die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering in New York
Bron: @PresidencyZA