Wie kan vergeet dat Rassie Erasmus ‘n knop in die keel had toe hy die storie van Makazole Mapimpi vertel het – die man met geen familie nie?
As deel van die Springbokke se voorbereiding vir die 2019 Wêreldbeker-rugbytoernooi, is alle spanlede gevra om duimnaelfoto’s van hul geliefdes op die nommers van hul rugbytruie te plaas.
Erasmus het in die reeks Chasing the Sun onthul dat Mapimpi net foto’s van homself, maar geen foto’s van sy familie gehad het nie. Hy is na die rede gevra.
“Want dis net ek,” het hy gesê.
“My ma is dood toe ek jonk was. My pa was nooit deel van my lewe nie. Die enigste mens wat my dra is ekself.”
Daar is geen groter storie as die verhaal van ‘n sportman wat, lynreg teen die noodlot, die toppunt van sy gekose sport bereik het nie.
Mapimpi het grootgeword in die dorpie Tsholomnqa in Mdantsane, Oos-Londen. Hy het nie ‘n groot rugbyskool bygewoon nie en was nooit in ‘n posisie om raakgesien te word nie, maak nie saak hoe goed hy gespeel het nie.
Hy is deur sy ouma grootgemaak want sy ma, broer en suster is almal tragies oorlede.
Sy rugbyloopbaan het begin met twee jaar by die Border Bulldogs; dit was oënskynlik die einde van die rugbypad vir hierdie hoogstalentvolle vleuel.
Hy was reeds 27 toe hy hom in 2017 by die Southern Kings aangesluit het, en het toe na die Cheetahs en die Haaie oorgeskuif. Die hoogtepunt van sy speelloopbaan was dalk dat hy die Springbokke se eerste drie ooit in ‘n Wêreldbeker-eindstryd gedruk het.
Sy driekuns teen Roemenië laas Sondag was ‘n emosionele oomblik vir die speler.
Die weeskind van Mdantsane, wat sy franchise-rugby vir die Red Hurricanes in Japan speel, het nou ‘n gesin van miljoene wat hom luid ondersteun wanneerookal hy aan ‘n rugbybal raak.
Watter Suid-Afrikaner sal nie trots wees om ‘n duimnael van hul gesigte agterop Makazole Mapimpi se rugbytrui te hê nie?
Deur personeelskrywer
Op die foto hierbo: Makazole Mapimpi
Bron: Springbokke