Deur Razeen Gutta
CAF (Confederation of African Football) het aan die lig gebring dat die prysgeld vir die mans se Superbeker 130% hoër sal wees as verlede seisoen, terwyl die Vroue Kampioeneliga se bedrag dieselfde bly.
Die pasgekroonde Superbeker-kampioen, USM Alger, sal met $500,000 (R7.5 miljoen) wegstap ná hul sege van 1-0 oor Al Ahly Vrydag in Saoedi-Arabië – ‘n toename van $300,000 (R4.5 miljoen) vanaf vorige jare.
Die naaswenners neem $250,000 (R3.8 miljoen) huistoe, dubbeld soveel as wat verlede jaar toegeken is.
Terwyl die nuus van die prysgeldverhoging vandeesweek bekend gemaak is, is die agt spanne vir die Vroue Kampioeneliga ook bevestig.
Die kompetisie sal in November in Ivoorkus afskop, met vyf spanne wat hul buiging by die pronkbyeenkoms maak.
Die Hurricanes van Ekwatoriaal-Guinee sal aansluit by Ivoriaanse kampioene Atletico Abidjan, Ampem Darkoa van Ghana, JKT Queens van Tanzanië, en die Marokkaanse span Sporting Club Casablanca as eerstelinge in die kompetisie.
Verdedigende kampioene As Far van Marokko behoort vanjaar weer in die eindstryd te speel, nadat hulle verlede seisoen $400,000 (R6 miljoen) gewen het.
Dié prystotaal bly dieselfde vir vanjaar se wenners.
Die Suid-Afrikaanse kragspan Mamelodi Sundowns het in 2022 tweede gekom en sal hoop om selfs beter te vaar in vanjaar se veldtog.
Op die foto hierbo: Verdedigende kampioene As Far
Bron: @AfricaSoccer_zn