Deur Anita Dangazele
Minstens vyf mense het hul lewens verloor toe ‘n groep mans Sondagaand laat by ‘n huis in Gelvandale, Gqeberha, ingestorm en agterplaasbewoners afgemaai het.
Die eerste slagoffer is in die gang van die buitegebou gevind, ‘n egpaar is in die slaapkamer gevind, terwyl twee ander liggame in die badkamer gevind is.
Die oorledenes, drie mans en twee vroue, was tussen 24 en 42 jaar oud. Hulle is Daniel Cornellissen, Amber van den Berg, Shariff Guttie, Ismaaêel van Breda en Jade Jantjies.
‘n Buurvrou, wat uit vrees vir vergelding gevra het om nie by naam genoem te word nie, het gesê sy het TV gekyk toe sy geweerskote hoor.
“Ek was so bang en het in die slaapkamer gaan wegkruip totdat die skote opgehou het. Dit is verskriklik wat met daardie mense gebeur het. Ons is almal geruk,” het sy gesê.
Van binne die huis het ‘n geskree en oproepe om hulp hard weerklink.
Polisiewoordvoerder Kolonel Priscilla Naidu het die skietery bevestig.
“Daar word beweer dat ‘n onbekende aantal gewapende mans wat klapmusse gedra het omstreeks 11.50nm by ‘n erf in Koedoestraat aangekom en na die buitegebou aan die agterkant van die huis gegaan het. Skote is van buite afgevuur voordat die gewapende mans ingegaan het,” het sy gesê.
Naidu het gesê die motief vir die moorde is op dié stadium nog onduidelik.
Dit is die vierde massaskietery wat sedert Januarie tydens ‘n huisaanval in Nelson Mandelabaai plaasgevind het. Altesaam 23 mense het hul lewens verloor nadat hulle deur gewapende mans in hul huise verras is.
· Agt mense is doodgeskiet tydens ‘n 50ste verjaardagviering op 29 Januarie.
· Vier mense is vermoor op 12 Februarie by ‘n huispartytjie.
· Ses mense is vermoor op 11 Julie by wat vermoedelik ‘n dwelmhuis was.
Die gemeenskapsaktivis Pamela Mabini, wat op die toneel van Sondag se aanval was, het die voorval as sinneloos beskryf.
“Dit is tyd vir sinvolle optrede om die hoofoorsake van wapengeweld in ons samelewing aan te spreek,” het Mabini gesê.
“Ons moet saamstaan, ongeag ons verskille, om ons gemeenskappe te beskerm en ‘n veiliger toekoms te verseker terwyl ons almal saam met die polisie werk.”
Provinsiale polisiekommissaris Luitenant-generaal Nomthetheleli Mene het gesê die polisie is oorgehaal om diegene wat verantwoordelik is, aan te kla.
“Die veiligheid en welstand van ons gemeenskappe bly ons hoogste prioriteit, en ons sal alles in ons vermoë doen om te verseker dat geregtigheid geskied,” het sy gesê.
Op die foto hierbo: Slagoffers van die vele massamoorde in Gqeberha die afgelope maande
Bron: Brandon Nel