Deur Premium Times
Minstens 2,000 mense is dood en 10,000 word vermoedelik vermis nadat Storm Daniel tonne reën in Libië se noordooste neergestort het.
Die storm het twee damme laat ineenstort en hul inhoud ontketen op reeds oorstroomde gebiede, berig CNN.
Tamer Ramadan, hoof van die Rooi Kruis-afvaardiging in Libië, het Dinsdag die getalle van vermiste mense geraam. “Die dodetal is yslik,” het sy gesê.
Onder die dooies was minstens 145 Egiptenare, volgens amptenare in die noordoostelike stad van Tobruk in Libië
In die oostelike stad Derna, wat die ergste deur die ramp getref is, word soveel as 6,000 mense vermis.
Volgens owerhede is hele woonbuurte in die stad glo weggespoel.
Hospitale in Derna kan nie meer bedryf word nie en lykshuise is vol, het nood- en ambulansdienswoordvoerder Osama Aly gesê.
Dooie liggame is buite die lykshuise op die sypaadjies gelaat, het hy aan CNN vertel.
“Daar is geen eerstehandse nooddienste nie. Mense probeer op die oomblik om die verrottende liggame te versamel,” het Anas Barghathy, ‘n dokter wat tans in Derna as vrywilliger werk, gesê.
Familielede van mense wat in die verwoeste stad Derna gewoon het, het aan CNN gesê hulle was doodbang nadat hulle video’s van die oorstromings gesien het, sonder enige nuus van hul familielede af.
Die reën, wat oor verskeie stede in Libië se noordooste gestort het, is die gevolg van ‘n magtige laedrukstelsel wat verlede week katastrofiese oorstromings in Griekeland veroorsaak het en na die Middellandse See beweeg het. Dit het toe ontaard in ‘n tropiese sikloon wat bekend staan as ‘n medikaan.
Die dodelike storm kom tydens ‘n jaar van ongekende klimaatrampe en rekordbrekende weeruiterstes, van verwoestende veldbrande tot onderdrukkende hitte.
Die ineenstorting van twee damme veroorsaak deur die vloedreën, wat water na Derna laat stroom het, het katastrofiese skade aangerig.
Huise in valleie is weggespoel deur sterk modderstrome wat voertuie en rommel saamgevoer het, en telefoonlyne in die stad is omgespoel, wat reddingspogings bemoeilik.
Libië se storm volg op dodelike oorstromings in baie ander dele van die wêreld, insluitend Suid-Europa en Hong Kong.
Die land se kwesbaarheid vir uiterste weersomstandighede word verhoog deur langdurige politieke konflik, wat ‘n dekade lange magstryd tussen twee mededingende administrasies meegebring het.
Op die foto hierbo: Stede en dorpe is vernietig deur oorstromings ná die medikaan
Fotobron: Perskantoor van die Libiese premier/AFP