Deur Anita Dangazele
‘n Man wat sy vrou meer as vier jaar gelede as vermis aangemeld het, nadat hy haar lyk onder ‘n bad in hul huis begrawe het, is aan haar moord skuldig bevind.
Yibanathi Ndema, 45, is skuldig bevind op aanklagte van moord, inmeng met die verloop van geregtigheid, en drie aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Ndema het sy vrou, die 36-jarige Noluvuyo Nonkwelo, op 1 Julie 2019 vermoor.
Twee dae later het hy sy vrou as vermis by die polisie aangemeld, al het hy geweet dit was nie waar nie.
Die huwelik is na bewering tussen 2018 en Junie 2019 deur huishoudelike mishandeling gekenmerk, met veelvuldige skuldigbevindings van aanranding.
Luxolo Tyali, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het gesê Nonkwelo is voor haar dood ‘n beskermingsbevel toegestaan, maar het dit later teruggetrek.
“Die aanrandings was die gevolg van aanvalle met ‘n stok, gebalde vuiste en die oophand, verbranding van haar met warm water en die uittrek van hare. Die oorledene het eenkeer ‘n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer teen hom geopen en is ‘n beskermingsbevel in Januarie 2019 toegestaan. Maar beide die saak en die beskermingsbevel is later teruggetrek,” het Tyali gesê.
Ndema is in Augustus 2021 in hegtenis geneem nadat Nonkwelo se oorskot gevind is. Die egpaar se kinders het hul grootouers vertel dat die bad sedert hul ma se verdwyning verskuif is. Dit het die polisie aangespoor om Ndema se huis te deursoek, wat gelei het tot die ontdekking van die oorskot.
“DNS-resultate het bevestig dat die oorskot inderdaad dié van Nonkwelo was en dit is aan haar familie gegee vir ‘n behoorlike begrafnis. Nadoodse ondersoeke het aan die lig gebring dat die oorledene aan ‘n gebreekte nek gesterf het,” het Tyali bygevoeg.
Ndema het aanvanklik borgtog laat vaar, maar in ‘n later stadium het hy ‘n ommekeer gemaak en om borgtog aansoek gedoen, wat suksesvol deur die aanklaer teëgestaan is.
Tydens die verhoor het hy skuld ontken. Hy het hom ook gedistansieer van ‘n bekentenis wat hy aan die polisie gemaak en erken het dat hy sy vrou doodgewurg het omdat sy ‘n buite-egtelike verhouding gehad het.
Senior staatsadvokaat Sibusiso Nolutshungu het die getuienis gelei toe die oorledene se pa aan die hof vertel het van ‘n huwelik gekenmerk deur fisieke mishandeling en daaropvolgende verskonings van Ndema.
Regter Buyiswa Majiki het bevind dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het en genoem dat die vervolging gebasseer is op moord met voorbedagte rade, wat ‘n minimum vonnis van lewenslange tronkstraf oplewer.
Die saak is tot 2 Oktober uitgestel.
Op die foto hierbo: Vrou-moordenaar Yibanathi Ndema in Mthatha Hooggeregshof
Bron: NVG