In ‘n blaarryke boewery Doer-onder is ‘n slim koala ontmasker as die parmantige plantdief wat toegeslaan het op ‘n Australiese kwekery.
Dié kwaaddoener, genaamd Claude, is deur personeel by die Eastern Forest-kwekery in Nieu-Suid-Wallis, Australië, met sy klou in die koekblik betrap. Sy geheime missie? Om te knubbel aan duisende kosbare plante, gekweek om ander koalas te help.
Jy wonder seker hoe hierdie vindingryke langvinger uiteindelik uitgevang is. Die antwoord: hy was gierig. Claude was net nie daartoe instaat om hom in te hou nie en het dus roekeloos geraak.
“Die raaisel van ons verdwynende plante is opgelos toe die groen dief nie ‘n laataand-happie kon weerstaan nie en op heterdaad betrap is,” het kwekeryeienaar Paul Herington gesê.
Maar Claude, sy kriminele rekord nou ontbloot, het nie sommer die aftog wou blaas nie. Ná hy gevang en na ‘n veiliger plek verskuif is, het hierdie bosbandiet volhard en teruggekeer vir meer.
Herington, hoewel verstom deur Claude se manewales, konnie help om sy hoed vir die diertjie af te haal nie: “Ek kon net nie glo dat ‘n koala die sondebok was nie. Ek was geskok, maar ook ‘n bietjie beïndruk.”
Tog is daar ‘n kommerwekkende kinkel in hierdie verhaal van plantplundering. Claude se laataand happies aan plante veronderstel om die plaaslike koala-habitat ‘n hupstoot te gee, laat mens wonder: Beleef hierdie ikoniese Aussie-wesens ‘n voedselkrisis?
Australië se koala-bevolking is swaar getref deur grond wat skoongemaak word van plantegroei, veldbrande, siektes en habitatverlies. In 2022 is hulle langs die ooskus as bedreig verklaar.
Saamgestel deur personeelskrywer
Op die foto hierbo: ‘n Koala