Mangosuthu Buthelezi sterf

RIP, Prince

Deur Zukile Majova

Prins Mangosuthu Buthelezi, die tradisionele eerste minister van die Zoeloe-nasie, is na ‘n lang siekbed oorlede.

Die land se eerste Minister van Binnelandse Sake is Saterdag 9 September in die vroeë oggendure dood, net twee weke ná die viering van sy 95ste verjaardag.

Die stigter en emerituspresident van die Inkatha Vryheidsparty was die afgelope maande gereeld in die hospitaal opgeneem en dan weer ontslaan.

Aanvanklik is die hoof van die Buthelezi-stam in die noorde van KwaZulu-Natal gehospitaliseer vir roetine-behandeling van knaende rugpyn.

Hy is kort daarna ontslaan, maar dadelik weer opgeneem vir verdere behandeling. Dit was tydens hierdie sessie dat dokters bevind het die prins van KwaPhindangene-paleis het longontsteking opgedoen.

Shenge, soos Buthelezi met deernis bekendgestaan het, is in die St Augustine-hospitaal in Durban behandel maar verlede week ontslaan omdat hy tekens van herstel getoon het.

President Cyril Ramaphosa, wat tans die G20-beraad in Indië bywoon, het gesê sy hart is seer oor Prins Buthelezi se afsterwe.

“My gedagtes en gebede en dié van die regering en ons nasie gaan uit na die Koninklike Huishouding wat geseën was om uMntwana waKwaPhindangene se lang lewe te deel, asook na die Zoeloenasie en die leierskap en lidmaatskap van die Inkatha Vryheidsparty,” het die president in ‘n verklaring gesê.

Buthelezi, wat as parlementslid oorlede is, het ‘n yslike bydrae tot Suid-Afrika se politieke landskap gelewer.

Shenge, wat koning Misuzulu kZwelithini se tradisionele eerste minister was, word ook geëer vir bewaring van die Zoeloe-nasie se kulturele waardes en tradisionele leierskap in Suid-Afrika.

Die presidensie het gesê aankondigings sal mettertyd gemaak word ná oorlegpleging met die familie “rakende reëlings om die Inkosi van die Buthelezi-stam te vereer as ’n formidabele leier wat vir sewe dekades ‘n beduidende rol in ons land se geskiedenis gespeel het”.

“Ons sal mettertyd meer breedvoerig besin oor sy buitengewone lewe en uiteenlopende bydraes tot die ontwikkeling van ons nasie,” het Ramaphosa gesê.

“Vandag rou ons saam met die Buthelezi-stam en bid dat die siel van die Prins in vrede sal rus.”

Op die foto hierbo: Prins Buthelezi