Dit is net ‘n kwessie van tyd voordat die moordenaars van die rapper Kiernan “AKA” Forbes aan die pen sal ry, sê die polisie in KwaZulu-Natal.
Die 35-jarige rapper was besig om sy vriend, Tebello “Tibz” Motsoane, ‘n drukkie te gee toe die twee in Februarie buite die Wish-restaurant in Durban doodgeskiet is.
KZN se provinsiale kommissarisse het Woensdag tydens ‘n perskonferensie gesê die polisie het die geweer gevind wat gebruik is om die mans dood te maak, sowel as die wegkommotor en moontlike “spotters” wat op die uitkyk moes wees.
“Ons het al meer as 25 selfone se inhoud afgelaai en die span is besig om elke kommunikasie op daardie selfone te ontleed,” het Nhlanhla Mkhwanazi, polisiekommissaris van KZN, aan verslaggewers gesê.
“Ons het ‘n paar voertuie geïdentifiseer wat gebruik is. Sommige van die voertuie is gebruik om mee weg te jaag, sommige was as spotters gebruik.” Die polisie vermoed dat van diegene wat voertuie gebruik het ná die aanval, ook verdagtes in die moorde is.
Mkhwanazi het ook bevestig dat die polisie in besit is van een van die gewere waarmee die mans geskiet is.
“Ons het ten minste een vuurwapen geïdentifiseer wat gebruik is en positief geïdentifiseer is as die een wat gebruik is om Mnr Forbes daardie aand te skiet.”
IOL het twee weke gelede berig die polisie het verdagtes in die aanval geïdentifiseer. Die besit van die vuurwapen kan daarop dui dat die verdagtes reeds agter tralies is.
Saamgestel deur personeelskrywer
Op die foto hierbo: Kiernan “AKA” Forbes en Tebello “Tibz” Motsoane is in Februarie doodgeskiet.
Bron: Twitter