Neem kennis: As jy vape raak jou knaters kleiner

Short answer: DON'T vape

’n Onlangse studie wat deur Turkse wetenskaplikes gedoen is, het bevind dat vaping kan lei tot ‘n vermindering in testikelgrootte, ‘n afname in spermtelling en laer seksdrang by manlike rotte.

Die navorsers het die grootte van die rotte se testikels gemeet voor en ná blootstelling aan beide sigaretrook en e-sigaretdampe.

Hulle het ook biomerkers van stres in die bloed en geslagsdele geïdentifiseer.

Terwyl beide vaping en rook ‘n negatiewe uitwerking op voortplantingsgesondheid gehad het, het sigaretrook ‘n groter impak op die manlike rotte se organe gehad.

Die spermtelling van rotte wat aan e-sigaretdampe blootgestel is, was 95.1 miljoen sperm per milliliter, vergeleke met 98.5 miljoen per milliliter in rotte wat nie aan nikotienstowwe blootgestel is nie.

Die groep wat aan sigaretrook blootgestel is, het egter die laagste spermtelling van almal gehad, met 89 miljoen sperm per milliliter, het die New York Post berig.

Hierdie rotte het ook kleiner testes en laer testikelgewig gehad in vergelyking met beide die e-sigaret-blootgestelde groep en die kontrolegroep.

Die navorsers het opgemerk dat alhoewel e-sigaretvloeistof as ‘n potensieel onskadelike opsie bekendgestel word, dit oksidatiewe stres kan verhoog en tot veranderinge in die testikels kan lei.

E-sigarette is aanvanklik bemark as ‘n manier om op te hou rook, maar die studie beklemtoon die behoefte aan ‘n beter begrip van hul potensiële gesondheidsrisiko’s.

Kenners waarsku daarteen om e-sigarette as ‘n veilige alternatief vir tradisionele tabakprodukte te beskou, aangesien dit met verskeie gesondheidsrisiko’s geassosieer word, insluitend longbesering, geestesgesondheidskwessies, en nou, potensiële uitwerking op vrugbaarheid en reproduktiewe gesondheid.

Saamgestel deur personeelskrywer

Op die foto hierbo: ‘n Vape of e-sigaret