‘n Bewaringsgroep het die wêreld se grootste versameling witrenosters in gevangenskap van ‘n plaas in Noordwes gekoop en beplan om hulle in die natuur vry te laat.
African Parks, ‘n Johannesburgse liefdadigheidsorganisasie, het Maandag aangekondig dat hy die yslike plaas van 19,000 hektaar aangeskaf het.
Dit behuis 2,000 van die 18,000 suidelike witrenosters op die planeet. Eienaar John Hume het die sukkelende plaas in April op die mark gesit.
Toe daar geen aanbiedinge was nie, het kommer toegeneem oor die lewens van die renosters wat dit bewoon. African Parks het egter daarin geslaag om noodfinansiering te verkry om die plaas te bekom.
African Parks hoop om tydens die volgende 10 jaar die renosters in reservate rondom Suid-Afrika en ander dele van die vasteland te hervestig.
Peter Fearnhead, uitvoerende hoof van die liefdadigheidsorganisasie, het gesê hy het aanvanklik geen planne gehad om ‘n renosteronderneming te besit nie, maar toe hulle sien die sukkelende plaas is te koop, het dit hulle geen keuse gelaat nie.
“Ons erken ten volle die morele noodsaaklikheid om ‘n oplossing vir hierdie diere te vind, sodat hulle weer hul integrale rol kan speel in ten volle funksionerende ekosisteme,” het hy aan die BBC gesê.
Suidelike witrenosters is nie ’n bedreigde spesie nie, maar hulle word geklassifiseer as op die rand van bedreiging.
Die spesie word deur stropers geteiken vir hul waardevolle horings. Dit is ‘n handel wat op omstrede wyse deur Hume ondersteun is, wat deels sy onderneming bestuur het deur die renosters se horings te oes sonder om die diere te beseer, en dit dan aan kopers in Asië verkwansel het.
Teen die 1930s het die bevolking van hierdie renosters tot ‘n algehele laagtepunt van 30 tot 40 gedaal.
Teen 2012 was daar egter 20,000 van hierdie renosterspesie, wat deur bewaringspogings teruggebring is van die rand van uitsterwing.
Noordelike witrenosters was nie so gelukkig nie. Daar is net twee van hierdie subspesies op die planeet oor, en hulle is albei wyfies. Swaar beskerm deur wagte in Kenia, sien hierdie twee die laaste dae van hul soort uit voor algehele uitsterwing.
African Parks sê hulle sal alles doen om seker te maak dat stropers nie toegang tot die renosters in Noordwes sal hê wanneer hulle vrygelaat word nie. Hulle sê hulle sal met regerings en ander bewaringsorganisasies saamwerk om te verseker dat hul habitatte goed beskerm word.
Op die foto hierbo: Die suidelike witrenoster
Bron: Twitter