Deur Michael Madyira
Max Verstappen het Sondag met ‘n oorwinning by die Italiaanse Grand Prix in Monza ‘n 10de agtereenvolgende Formule 1-oorwinning behaal.
Nadat hy Carlos Sainz se aanval vir 14 rondtes moes afweer, het Verstappen se druk die truuk kon doen, en kon hy ook voordeel trek uit die Spanjaard se blaps toe dié sy remme in die eerste chicane laat sluit het.
Sergio Perez het as die naaswenner van sy Red Bull-spanmaat geëindig terwyl Ferrari se Sainz derde plek behaal het.
Die oorwinning het beteken die Nederlander het die rekord verbeter van die mees opeenvolgende Formule 1-oorwinnings, voorheen deur Sebastian Vettel gehou.
“Ek sou nooit geglo het dit was moontlik nie,” het Verstappen besin oor sy triomf volgens RacingNews365.
“Ons moes vandag hard werk en dit het alles beslis baie lekkerder gemaak.
“Ons het ‘n goeie pas gehandhaaf, ons was goed op die bande, maar hulle het baie topspoed gehad.”
Sondag se oorwinning het gekom sewe dae nadat hy in die Nederlandse Grand Prix voor sy tuisskare op Circuit Zandvoort geseëvier het.
Verstappen het verduidelik hoe hy dit reggekry het om Sainz op rondte 15 in Monza te oorrompel.
“Dit was moeilik om naby te kom en ‘n skuif te maak by Draai 1,” het hy gesê.
“Ek moes dus ‘n fout afdwing. Gelukkig het dit op ‘n stadium gekom waar hy gesluit het en toe kon ek beter traksie uit Draai 2 kry.
“Van daar af kon ons ons eie ding doen. Ek het net probeer om geduldig te bly – dit was ‘n lang resies. Ek kon sien hulle sukkel baie met die agterbande so ek moes net my oomblik mooi kies.
“Alles het goed gevoel. Ons moes aan die einde ‘n klein probleempie hanteer, maar ons het die gaping agter gehad sodat ek maklik kon uitkom.”
Mercedes se Lewis Hamilton het sesde geëindig in Monza.
Op die foto hierbo: Max Verstappen
Bron: Formule 1