Jong Kapenaar maak skoonskip met slim besigheidsplan

Let me show you clean sneakers, son

Deur Buziwe Nocuze

In die hartjie van Kaapstad se Gugulethu township het die 23-jarige Anga Nunu sy bleek vooruitsigte in ‘n suksesverhaal verander.

Te midde van alomteenwoordige werkloosheid, het hy sy eie geleenthede geskep deur middel van ‘n innoverende skoen- en matskoonmaakonderneming.

En dit gaan nie net oor inkomste nie; dit is ‘n verhaal van vasberadenheid geskryf in skuimwater en ‘n silwerskoon eindproduk.

Sy besigheid verskaf nie net ‘n broodnodige inkomste wat sy familie voed nie, maar bewys hy is ‘n toonbeeld van vasberadenheid.

“Ek het by die Rainbow-maatskappy gewerk en is in 2021 afgedank. Dinge was baie moeilik totdat ek met die idee vorendag gekom het om hierdie besigheid te begin,” het Nunu gesê.

Sy inspirasie het gespruit uit ‘n oënskynlik alledaagse gebeurtenis. In Julie vanjaar het sy suster vir hom ’n paar skoene persent gegee; wat gevolg het was als behalwe alledaags

“Ek het uitgegaan om saam met my vriende te kuier, en my nuwe skoene het baie vuil geword, so ek het my tyd geneem om dit te was en weer skoon te kry.”

Sy vriende was verstom oor sy kundigheid – hulle het aangeneem dat hy die skoene na ‘n professionele wassery geneem het.

“Die komplimente wat ek van hulle ontvang het, het my gemotiveer om die besigheid te begin, en hulle was die eerste kliënte wat my onderneming ondersteun het,” aldus Nunu.

Meer klante het Nunu se drumpel begin plattrap nadat sy vriende sy besigheid adverteer het.

“Om werkloos te wees is die mees stresvolle ding wat mens kan beleef. Dit bring net stres en depressie, so ek is trots dat ek iets begin het en so vir my gesin kan sorg,” het hy gesê.

Nunu se prysstrategie weerspieël sy empatie vir die finansiële beperkings waarmee baie in sy gemeenskap sukkel.

Hy vra R200 vir groot matte, R120 vir mediumgroottes, en ‘n beskeie R70 vir die kleiner matte. Skoenskoonmaak wissel van R70 tot R150.

“Ek wil nie duur wees nie, want ek verstaan ​​wat almal deurmaak.”

Nunu voel sterk daaroor dat jongmense tot aksie moet oorgaan en vir hulself geleenthede skep in plaas daarvan om op staatsondersteuning te wag.

“Die werkloosheidsyfer styg elke dag. As ons sit en wag vir ons regering, sal ons op die ou end gestres en depressief wees, so ons moet iets wettigs doen om self vir ons gesinne te sorg.”

Op die foto hierbo: Anga Nunu met ‘n jong bewonderaar van sy slim besigheidsplan

Bron: Verskaf