Ali Bongo Ondimba, afgesette president van Gaboen, het sy ondersteuners gevra om “geraas te maak” om die aandag te vestig op die voortslepende situasie in Gaboen.
Die resultaat is ‘n trefferliedjie wat sosiale media gebruikers eindeloos vermaak.
Verskeie video’s het na vore gekom van Bongo se boodskappe wat met dansmusiek gemeng is en mense laat lyfskud.
Maar nie op die manier wat Bongo gehoop het nie, want in plaas daarvan om hom te ondersteun, het dit in ‘n aanlyn gier ontaard. Dit help Bongo glad nie, tensy hy die liedjies geniet.
Ná die land se presidensiële verkiesingsuitslae, waarin Bongo sy derde termyn van sewe jaar verseker het, het die weermag aangekondig dat hulle die nasie se leierskap oorneem.
In ‘n videoboodskap van 51 sekondes het Bongo ‘n beroep op internasionale ingryping gedoen, aangesien hy en sy gesin deur soldate onder huisarres geplaas is.
Hy sy vriende regoor die wêreld gevra om hul stemme te verhef en bewustheid te skep van die situasie in Gaboen.
In ‘n verklaring wat op staats-TV uitgesaai is, het die staatsgreepleiers die aanstelling van die hoof van die presidensiële wag as leier van die oorgangsregering verklaar.
Hulle het alle staatsinstellings, insluitend die konstitusionele hof en parlement, ontbind en die land se grense gesluit.
Boonop het hulle die presidensiële verkiesings wat Saterdag plaasgevind het, waarin Bongo met 64.27% van die stemme herkies is, gekanselleer.
Hierdie staatsgreep is ‘n belangrike keerpunt in Gaboen se politieke landskap, wat moontlik die Bongo-familie se 56-jarige bewind in die olieryke Wes-Afrika nasie mag beëindig.
Die tussentydse president word Maandag ingehuldig.
Saamgestel deur personeelskrywer
Op die foto hierbo: Ali Bongo
Bron: Twitter